Kuiergaste het glo Sondagaand hul gasheer en -vrou in Rheederpark in Welkom in die Vrystaat vermoor, hul dogter probeer verkrag en toe hulle nie daarin kon slaag nie, die buurvrou verkrag.
Die polisie hier is nou op soek na sewe verdagtes in verband met moord, verkragting en poging tot verkragting.
Marion Chongo (51) en sy vrou, Joyce Ntemutse Duma (38), is Sondagaand in die kop geskiet. ’n Rusie het glo ontstaan toe Chongo teen 19:30 die gaste gevra het om te loop omdat dit al laat begin raak het. Een van die gaste het Chongo en Duma in die kop geskiet.
Luidens ’n polisieverklaring het die mans toe die egpaar se dogter ontklee en haar probeer verkrag, maar nie daarin geslaag nie.
Die egpaar se 29-jarige buurvrou, wat ook saamgekuier het, is toe deur die mans ontvoer. Volgens haar is sy na nabygeleë bosse gesleep en deur sewe mans verkrag, wat haar later vrygelaat het.
Luidens die polisieverklaring was vier van die kuiergaste by die egpaar burgers van Lesotho.
Die polisie vra enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes om brig. Disebo Cezula by 072 191 0680 of 086 001 0111 te bel.