Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad styg kwaai in dié Vrystaatse dorpe sedert Covid-19

Eiendomsmisdaad het sedert die inperkings skerp in sommige Vrystaatse dorpe toegeneem, terwyl ander dorpe ’n afname in dié misdaad gesien het.

Volgens die polisie se statistieke is van die dorpe waar eiendomsmisdade in die laaste kwartaal van die 2020-’21-boekjaar skerp gestyg het Edenville, Reitz, Ventersburg en Allanridge.

Inwoners van dié dorpe sê mense het so verarm dat hulle nie verbaas is misdaad skiet die hoogte in nie en dat die verswakte plattelandse ekonomie daartoe bydra.

Nonnie van Rensburg (84) in Mei by die bed in haar huis in Ventersburg waaraan sy vasgemaak is. Foto: Alet van der Walt

Inwoners van Edenville en Ventersburg het onlangs aan Netwerk24 gesê dat hulle gedurig onder inbrake, voertuigdiefstal en die vergiftiging van honde deurloop.

In Reitz het inbrake by huise wel met 15% afgeneem, maar inbrake by sakeondernemings het met 150% toegeneem, terwyl ander eiendomsmisdade soos voertuigdiefstal en diefstal uit voertuie onderskeidelik met 200% en 44% toegeneem het. Misdaad in die kategorie vir alle eiendomsmisdaad het met 15% gestyg.

In Edenville het inbrake by huise met 66% en inbrake by sakeondernemings met 33% toegeneem, terwyl alle eiendomsmisdaad met 40% gestyg het.

Dit het ook in Ventersburg skerp gestyg en inbrake by huise het met 130% toegeneem, terwyl inbrake by sakeondernemings met 25% gestyg het en eiendomsmisdaad in geheel met 75%.

Allanridge, bekend vir sy hoë misdaadsyfers, het ook ’n toename in dié misdaadkategorieë ondervind. Inbrake by huise daal hier met 25%, maar inbrake by nieresidensiële eiendomme het met 500% die hoogte ingeskiet. Alle eiendomsmisdaad styg met 43%.

Inwoners van dié dorpe is dikwels ontevrede met swak polisiewerk en voel dat daar nie genoeg gedoen word om misdadigers te vervolg nie.

Tog is daar dorpe waar misdaad die afgelope tyd afgeneem het, soos Theunissen, Bothaville, Bultfontein en Winburg.

In Winburg het inbrake by huise met 71% afgeneem, by sakeondernemings met 30% en eiendomsmisdaad het in geheel met 55% gedaal.

In Theunissen het inbrake by huise met 25% en by sakeondernemings met 46% gedaal en eiendomsmisdaad in geheel het met 35% gedaal.

Bothaville het, nadat inwoners hier in ’n stadium erg onder veral inbrake deurgeloop het, ook ’n afname in misdaad ervaar. Inbrake by huise het met 21% afgeneem, by sakeondernemings het inbrake met 3% gestyg – wat egter net een voorval verteenwoordig – en alle eiendomsmisdaad het met 19% gedaal.

Ook in Bultfontein het inbrake by ondernemings met 92% gedaal, by huise met 47% en eiendomsmisdaad in geheel met 56%.

Maar nie almal is dit eens dat misdaad wel in dié dorpe afgeneem het nie.

’n Inwoner van Winburg, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê hy glo eerder dat mense toenemend net diefstal vir versekeringsdoeleindes aanmeld en dat daar nie werklik ’n afname is nie.

Gawie Pretorius van die AfriForum-buurtwag op Bothaville sê die aandklokreël help beslis dat minder inbrake gepleeg word, maar hy glo ook dat mense nie altyd diefstalle aanmeld nie.

Meer oor:  Vrystaat  |  Dorpe  |  Diefstal  |  Inbrake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.