Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Einstein weer tuis ná lesers hom eien

Einstein die papegaai is vyf maande nadat hy gesteel is met sy mense-familie herenig toe sy tydelike familie in Rapport gelees het van hom.

Eric Meiring en Einstein is eergister herenig nadat die papegaai vyf maande gelede gesteel is. Foto: Deon Raath

Die bekkige papegaai het sy eie naam aan die tydelike familie van Roodepoort aan die Wes-Rand opgesê, maar dis eers nadat hulle verlede Sondag gelees het die Meiring-gesin van Randburg soek nog die heeltyd na Einstein, dat hulle besef het dis die einste voël.

Rapport het verlede week berig oor beeldmateriaal van veiligheidskameras van die Laerskool Fontainebleau in Randburg wat wys hoe twee mans die middag van 2 Maart in ’n wit Citi Golf by die Meiring-gesin se huis stilhou en Einstein in sy hok op die stoep steel.

Allan Meiring het aan Rapport gesê hy kon dit byna nie glo toe iemand hom Vrydag bel en sê hulle dink hulle het die vermiste Einstein-papegaai nie.

“Ons het gedink: ‘Jissem, nie al weer ’n bogstorie nie.’ ”

Die Meirings het oor die afgelope maande verskeie vals leidrade opgevolg. “Maar die pa het toe ’n foto gestuur en ons was redelik seker dit is Einstein. Ons het dadelik na hul huis toe gery en toe is dit wraggies hy!” sê Allan.

Eric Meiring en Einstein soen mekaar etlike ure na hy met sy mense-familie herenig is. Einstein is vyf maande gelede gesteel. Foto: Deon Raath

Die Roodepoort-gesin sê hulle het vir Einstein teen R1 500 gekoop – vermoedelik by die voëldiewe.

“Hulle sê twee mans het sowat vier en ’n half maande gelede in ’n wit Citi Golf by hul huis stilgehou en die papegaai saam met sy hok vir R1 500 vir hulle aangebied.

“Die man het vir sy vrou gevra of sy ’n papegaai wil hê, toe sê sy ja.”

Aanvanklik het die nuwe familie gedink Einstein se naam is Stokkies, want hy het heeltyd vir stokkies gevra. Die papegaai het ’n woordeskat van 350 woorde, en een van sy sêgoed is: “My naam is Einstein, ek is ’n papegaai, ek is ’n papegaai, ek is oulik.’ ”

Toe die Meirings vir Einstein gaan oplaai het, was sy tydelike mense-ma in trane.

“Hulle het duidelik baie geheg aan hom geraak,” sê Allan.

Volgens Eric Meiring, Allan se pa, het hy besluit om die beloning van R7 000 wat hy uitgeloof het vir enigiemand wat Einstein opspoor, vir die mense te gee.

“Die man het gesê hy sien daar is ’n beloning. Ons was so bly om hom terug te kry dat ek dadelik besluit het om hom te betaal. Ek het vir hom die R7 000 in kontant gegee. Ek glo hulle is onskuldig en is ook onwetend by sy diefstal betrek,” sê Eric.

Hy gaan nie sy diefstal-klag teen die voëldiewe by die polisie terugtrek nie.

“Ek soek steeds na hulle. Ek glo hulle moet boet vir wat hulle aan ons gedoen het. Hulle het vir ons oneindige ellende veroorsaak. Hulle het ’n kosbare troeteldier by ons gevat met wie ons ’n 13 jaar lange verhouding opgebou het. Ek is nie bereid om dit net hier te los nie.”

Eric probeer dan vir Einstein uit sy hok haal vir ’n foto, maar die papegaai byt hom.

“Dis die eerste keer ooit wat Einstein my byt,” sê Eric verbaas.

“Gee soentjie, gee soentjie,” sê hy dan vir Einstein wat weer soos sy ou self op oupa se skouer klim om geliefkoos te word.

Meer oor:  Papegaai  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.