Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ek kan nie help om te worrie’

Meer as vier dekades gelede het Giel Fourie sy .38-rewolwer met vyf patrone gelaai, maar nog nooit nodig gehad om dit te gebruik nie.

Hier het die inbreker geval, voor sy kleinkind, en gesterf, sê Giel Fourie. Foto’s: Julian Jansen

Tot verlede Donderdag toe hy ’n inbreker in sy huis in Grabouw betrap en doodgeskiet het.

Fourie (65) word nou van moord aangekla, maar geniet groot steun van die publiek, veral op sosiale media.

Fourie en sy vrou, Susan, maak pasteie en samoesas in hul motorhuis, en dié Donderdagmiddag het Fourie pas klaar samoesas gebak toe sy vrou die slaapkamer wou opruim. Sy wou ’n rusbank regskuif toe sy die man daaragter gewaar.

Sy het geskree dit is dieselfde man wat op 11 Desember ook ingebreek, haar vasgemaak en beroof het. Sy het hom aan sy “plein gesig, nou neus, geen gesigmerke nie” herken.

Nou het hy handskoene aangehad, met ’n mes in elke hand, en het ook kabelbandjies (cable ties) by hom gehad. Hy spring toe glo op en wou Fourie en hul Deense hond, Katryn, met ’n mes steek.

‘Jy’t nie tyd om te dink nie.’

Fourie sê hy het sonder om te weifel sy vrou uit die pad gedruk. Hy is ’n karateka met twee knievervangings.

Fourie het die man se hand gedraai, maar hy het glo losgebreek. Hy het na die kombuis gevlug, maar die agterdeur was gesluit.

Fourie het sy rewolwer uit die kluis gehaal en sy vrou het die man met koue water gegooi.

Hy sê hy het die inbreker gevra om sy mes op die grond te sit en op die grond te gaan lê, maar die man het egter steeds nader beweeg, waarop hy hom gewaarsku het dat hy hom gaan skiet.

Hy het destyds ’n donshael-patroon eerste gelaai, wat as “afskrikmiddel” moet dien. Daardie eerste skoot het die man teen die bors getref, maar hy het nie eens gesteier nie, net steeds vorentoe beweeg, sê Fourie. Volgens hom was die man se oë “stokstyf”, so asof hy bedwelm was. “Watter mens, as jy nou net geskiet is, sal aanbeweeg?” vra Fourie.

Die inbreker het bo-oor die veiligheidshek gekom.

Toe klap nog ’n skoot, en die man val by die binnedeur waar Fourie se kleindogter geskuil het.

Fourie vermoed die man het aan die bokant van die veiligheidsdeur by die agterdeur ingekom. Volgens sy vrou het die man met die vorige inbraak aan haar gesê hy sal haar nie verkrag nie, maar dat sy geld aan hom moet oorhandig.

Fourie het Rapport buite die huis gewys waar die inbreker vroeër vermoedelik agter ’n klimopplant gestaan en ’n sigaret gerook het. Later het hy die huis binnegegaan, op een van die beddens gaan lê en ’n skeermes uit die badkamer gevat. Hy het ook geld uit ’n beursie gevat wat bedoel was vir Lotto-kaartjies.

Fourie sê toe hy inkom met die bak samoesas het die man vermoedelik gaan wegkruip.

“As ek hom nie geskiet het nie, het hy my en my vrou en my kleinkind doodgesteek, want hy kon nie uitkom nie.

“Jy’t nie tyd om te dink nie, want hy kom aan vir my. Ek het nie gedink ek kan iemand skiet nie. Ek is ’n saggeaarde mens.

“Nou wag ons om te sien wat hulle gaan doen. Mense sê ek moenie worrie nie, maar jy worrie tog. Ek het nog nooit meer as ’n boete vir spoed gehad nie.”

Fourie sê die polisie het op sy vuurwapen beslag gelê. Hy het nou vir beskerming gholfstokke oral in die huis gesit.

Die oorledene se identiteit is nog onbekend. Volgens die Fouries toon oproepstate op die man se selfoon, wat op die toneel gevind is, dat hy dalk van die Blikkiesdorp-plakkerskamp langs die N2-snelweg kom.

Fourie het die polisie se optrede geloof. Hy sê ’n prokureur van Somerset-Wes het hom genader om hom gratis te verteenwoordig en dat baie mense sy regskoste wil betaal. Fourie verskyn weer op 6 Mei in die hof.

Meer oor:  Grabouw  |  Inbraak  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.