Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ek kon nie asem kry nie’

’n Polisieoffisier van Mpumalanga wat onder verdenking is nadat sy meisie uit sy bewegende motor gespring of geval het, word nou ook beskuldig van die seksuele aanranding van ’n kroegmeisie.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) is besig om ’n voorval te ondersoek waartydens Maryke Kleinhans dood is toe sy in Januarie uit die BMW X3 van kapt. Awie Geldenhuys gespring of geval het.

Awie Geldenhuys, die berugte polisiekaptein van Emalahleni.

Volgens Moses Dlamini, ’n Opod-woordvoerder, is die grootste deel van die ondersoek reeds voltooi en wag hulle net op DNS- en bloedtoetsverslae voordat hulle hul bevindinge bekend maak.

Opod het intussen die polisie versoek om ook die ondersoek na klagte van seksuele aanranding teen Geldenhuys, wat tans op verlengde siekteverlof is, oor te neem.

Verlede week het die 36-jarige Tarryn Meiklejohn, ’n kroegmeisie van Middelburg in Mpumalanga, beweer dat sy deur Geldenhuys aangerand is.

Sy het die afgelope week aan Rapport vertel dat Geldenhuys en ’n vriend (glo ook ’n polisieman) ongeveer 22:00 die aand by die kroeg aangekom het om potspel te speel. Nadat die laaste kliënte kort ná 03:00 weg is, het Geldenhuys blykbaar aangebied om haar huis toe te neem. Sy bly in Dennesig, tien minute se ry van die kroeg af.

Tarryn Meiklejohn (36) het verlede week klagtes van aanranding met die doel om te beseer en seksuele aanranding teen Awie Geldenhuys, die berugte Witbankse polisiekaptein aanhangig gemaak. Die kneusplekke is glo waar Geldenhuys haar aangerand het.Foto: Verskaf
Tarryn Meiklejohn. Die kneusplekke is glo waar Geldenhuys haar aangerand het.

“Ons het met sy wit BMW X3 gery. Halfpad na my huis toe wou hy skielik weet of ek weet wie hy is. Hy sê toe dat hy die polisiekaptein van Witbank is met al die sake teen hom.” Sy beweer hy het haar toe met die vuis in haar gesig geslaan.

Meiklejohn is steeds geskok.

“Ek het gesmeek dat hy my moet los en vir hom jammer gesê – ek weet nie waarvoor nie, ek het net besef ek is in ’n gevaarlike situasie en moes hom probeer kalmeer,” sê Meiklejohn.

“Toe ons by die afdraai na my straat toe kom het ek gesê hy moet hier draai, maar hy het verby die kruising gery en die kar afgetrek.”

Haar blou oë verwater.

Sy beweer Geldenhuys het haar toe aan die hare gegryp, vasgedruk en gesoen.

Awie Geldenhuys en Tarryn Meiklejohn in die kroeg waar sy werk. Nadat die kroeg gesluit het, het hulle voortgekuier, maar teen 03:15 het hulle gery.
Awie Geldenhuys en Tarryn Meiklejohn by die kroeg waar sy werk. Nadat die kroeg gesluit het, het hulle voort gekuier, maar teen 03:15 het hulle gery.Foto: Verskaf
Awie Geldenhuys en Tarryn Meiklejohn by die kroeg waar sy werk. Nadat die kroeg gesluit het, het hulle voort gekuier, maar teen 03:15 het hulle gery.Foto: Verskaf

“Sy oë was blank, hy was doodstil en baie dronk,” sê Meiklejohn. Sy het haar glo teengesit, maar was nie sterk genoeg om los te kom nie.

“Dit is waar die kneusplekke aan my voorarms vandaan kom. Toe gryp hy my met sy ander hand aan die keel en druk totdat ek nie meer asem kry nie.”

Sy beweer Geldenhuys het haar kop twee keer met geweld teen die venster gestamp. Daarna het Geldenhuys blykbaar uit die kar gespring, die passasiersdeur oopgemaak en haar aan haar hare uit die sitplek getrek en teen die kar vasgedruk.

“Ek het weer probeer om myself uit die situasie te praat. Ek wou hom kalmeer, ek het gesê alles is okay en dit het gehelp. As ek dit nie gedoen het nie, sou ek nie vandag hier gesit het nie.” Sy beweer Geldenhuys het haar egter steeds nie gelos nie.

“Hy het my met sy regterhand aan die hare vasgehou en met sy ander hand my hemp en my bra afgetrek.”

Meiklejohn beweer dit was eers toe sy vir hom skreeu dat sy sien hoe die ligte van ’n huis daar naby aangaan, dat hy haar gelos het.

Sy het huis toe gehardloop.

“Ek het oor die muur van ons huis gespring en doodstil op die grond gaan lê totdat ek sy kar hoor wegry het,” sê Meiklejohn.

Sy het die volgende dag ’n klag by die polisie gaan indien.

Dlamini sê die saak is die afgelope Donderdag eers deur die polisie aan Opod gerapporteer. Hy sê strafregtelike klagte soos dié val nie normaalweg onder die mandaat van Opod nie, maar in dié geval het hulle toestemming gevra om die saak oor te neem.

Geldenhuys het nie op Rapport se teksboodskappe (wat hy wel gelees het) gereageer nie en sy selfoon het met elke oproep direk na stempos toe oorgeskakel.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Dood  |  Val  |  Spring  |  Meisie  |  Motor  |  Seksuele Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.