SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ek moes nie dowe koggel. Maar...’

Die man wat verlede week die dowe swemheld Te­rence Parkin in ’n padwoede-voorval glo aangeval het, sê hy is jammer hy het hom gespot, maar hy wou hom net “seermaak” omdat hy “self seergemaak is”.

Jaco Erasmus praat oor die padwoedevoorval toe hy die dowe swemmer Terence Parkin oor sy gestremdheid gekoggel het. Foto: Deon Raath

Jaco Erasmus van Heidelberg ontken dat hy Parkin in die gesig geslaan het. Rapport het verlede week berig dat Erasmus onder meer vir hom gevra het: “Is jy doof?!”

Parkin het verlede week in ’n onderhoud met Rapport gesê Erasmus het hom in sy gesig geslaan net omdat hy volgens Erasmus te stadig voor hom gery het.

In die selfoonvideo wat Parkin van die voorval geneem het, kan ’n mens sien hoe Erasmus na Parkin se gesig mik en hoe die selfoon val. Parkin se gesig was ná die tyd bebloed. Erasmus sê hy het net die selfoon uit Parkin se hand geklap en nie aan die Paralimpiese swemmer geraak nie.

Ons was albei baie kwaad. Hy was aggressief en het aanhoudend my persoonlike spasie betree.

Intussen het dit aan die lig gekom dat Erasmus se bejaarde buurvrou ’n interdik teen hom gekry het om haar nie te dreig nie.

Elsa Coetzee (73), die buurvrou, het aan Rapport gesê sy en 30 ander inwoners van die buurt het in Februarie ’n petisie by die Lesedi-stadsraad ingedien om te kla oor die “onwettige troues” wat Erasmus en sy vrou by hul venue, Stukkies en Stokkies, hou.

Volgens Coetzee was Erasmus woedend omdat sy ook by die stadsraad gekla het oor die aanhoudende geraas by hul venue, dat hul gaste die straat vol parkeer en dat Erasmus ’n gedeelte van die straat afgesper het.

“Hy het vir my gesê: ‘Jy kla mos. Ek gaan vir jou gelyk maak – ek gaan vir jou plat maak met die aarde’,” sê sy.

“Ek beskou sy dreigemente as uiters gevaarlik. Daarom het ek ’n interdik teen hom gekry. Ek vrees nou vir my lewe.”

Terence Park, die dowe swemheld, praat oor die padwoede-voorval. Foto: Elizabeth Sejake

Erasmus ontken dat daar enigiets onwettigs aan sy onderneming is, óf dat hy sy buurvrou gedreig het óf dat hy ’n boelie is. Oor sy buurvrou sê hy: “Sy is histeries vir geen rede nie. Sy maak allerhande bewerings soos dat sy ’n harttoestand ontwikkel het as gevolg van die troues. Sy beweer ook ons raas elke aand terwyl dit heeltemal onmoontlik is, want ons hou net oor naweke troues.”

Oor Parkin en verlede Dinsdag se padvoorval op die N3-snelweg, sê hy dit was alles ’n misverstand. Hy het ’n oproep gekry dat sy vrou, Ilse, haar arms gebrand het in ’n ongeluk toe sy haar motor se verkoeler oopgemaak het.

“Sy het my van ’n dokter se spreekkamer af gebel en my vertel dat haar voorarms lelik verbrand het toe sy langs die pad tussen Heidelberg en Vereeniging gaan staan het. Sy was histeries en my twee kinders was histeries. Ek was op pad Ladysmith toe en het toe dadelik omgedraai.”

Volgens hom het Parkin op die snelweg naby Villiers voor hom ingery. “Ek het verskeie kere vir hom getoet om pad te gee, maar hy het my van die pad af gery en my motor het op die los gruis gegly. Ek het gedink hy is aspris. My motor se waarskuwingsligte het ook geflikker dat my kar beskadig is. Ek het toe vir hom gewys om af te trek, maar hy het skielik weggejaag. Dis toe dat ek hom probeer stop het. Ek het in ’n stadium besef dinge kan lelik raak en het hom toe gelos en weggery. Ek het toe heeltemal van hom vergeet.”

Volgens Erasmus het hy weer in Parkin vasgeloop toe hy ’n Coke by die Vaal Engen-garage langs die N3-snelweg gaan koop het. Parkin het reg langs hom gestop.

“Hy het uit sy motor geklim en ek het hom gevra of hy my soek. Ek het toe vir hom gesê hy moet sy flikker aansit en sy antwoord was ‘ek het’.

“Ek het toe gedink hy kan lippe lees en verstaan as ek met hom praat.

“Ons was albei baie kwaad. Hy was aggressief en het aanhoudend my persoonlike spasie betree. Ek het hom toe gewaarsku om van my af weg te bly, maar hy het met sy foon agter my aangeloop, my afgeneem en my uitgetart.

“Hy het sy foon in my gesig gedruk en ek het dit toe in sy kar in geklap. Dit is toe dat ek bloed op hom sien. Ek kan nie sê of die foon hom in sy gesig getref het nie. Ek kan wel met sekerheid sê dat ek hom nie geslaan het nie.”

Volgens Erasmus het Parkin daarna sy bloed aan sy motor afgevee.

“Dit het my woedend gemaak en ek was gefrustreerd. Ek het soos Daniël in die leeukuil gevoel wat verslind word.

“Dit is hoekom ek hom gekoggel het. Ek was verkeerd om dit te doen, maar ek was op daardie stadium moedeloos. Jy maak seer, want jy kry seer . . . ek het hom gespot, want ek het self seergekry.”

Hy sê hy was “teleurgesteld” in Parkin se optrede.

Volgens Erasmus word sy familie nou onnodig geviktimiseer.

“Ek is al ’n p**s en ’n k*nt op Facebook genoem. Een ou het my vrou se familie op Facebook opgespoor met aantygings dat ek haar slaan en haar met die kelnerinne verneuk. Nog ’n ou het gesê my dood is nader as wat ek dink.

“Ons besigheid word ook seergemaak deur mense wat ons kliënte teister.”

Meer oor:  Elsa Coetzee  |  Jaco Erasmus  |  Te­Rence Parkin  |  Padwoede  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.