Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ek weet daar is baie mense dood, maar...’

Die voormalige Huisgenoot-joernalis wat op ’n reeksmoordenaar in die tronk verlief geraak het, kloek steeds aan sy sy.

Die voormalige Huisgenoot-joernalis, Marizka Coetzer. Foto: Deon Raath

Marizka Coetzer (29) het in ’n openhartige onderhoud gesê sy besoek Le Roux Steyn (24) nog gereeld in Sun City, ’n maksimum veiligheidstronk in Johannesburg.

Hy dien 25 jaar tronkstraf uit vir 18 misdade, waaronder veelvuldige moord en rampokkery.

Met een besoek het hy vir haar rose uit die tronk se tuin en “pienkerige ballonne” – opgeblaaste kondome – as geskenk gegee.

Presies ’n jaar gelede het Rapport onthul dat dié getroude vrou so verstrengel geraak het in haar ondersoek van die Krugersdorp-reeksmoorde dat sy oor die tou getrap het.

Ek wou die storie agter die storie kry.

Sy het toe nog ontken dat daar ’n verhouding was met Steyn.

“Ek gaan nie meer ontken dat daar iets tussen my en Le Roux was nie,” het sy Vrydag gesê.

“Ek is nog nie 30 nie. Ek was getroud, het ’n huis gekoop, het by Huisgenoot gewerk én is daar afgedank. Ek het geléwe.”

Haar boek, wat nog nie ’n titel het nie, verskyn al in Januarie op die rakke, sê sy. Die boek wat sy en ’n kollega sou skryf oor die Krugersdorp-moorde, is gekanselleer weens die skandaal.

In haar plaasvervangerboek belowe sy om álles te vertel – selfs dít wat Huisgenoot nie sou waag om te publiseer nie.

’n Skets wat Le Roux Steyn in die tronk gemaak het. Die voorletters van sommige van sy slagoffers is op grafstene aangebring en op sy “eie” grafsteen pryk die jaar wat hy gearresteer is as sy sterwensdatum.

Coetzer, wat weer ’n werk gekry het as joernalis by ’n gemeenskapskoerant, sê sy tel nou weer haar kop op.

Haar huwelik was al lank op die rotste, sê sy, maar sy het uitgetrek nadat haar tronkliefde op die lappe gekom het.

Hoewel sy weier om ’n reguit vraag te beantwoord oor of sy en Le Roux steeds ’n paartjie is, sê sy sy is nie enkellopend nie.

Coetzer was van meet af aan persoonlik betrokke by die storie. Haar eie neef is aanvanklik vir die moorde gearresteer, maar later vrygelaat. Een van die vermoordes, Kevin McAlphine, was ’n familievriend van haar ma.

Maar waar die water éérs troebel geraak het, was die jong donkerkop met tatoeëermerke op sy voorarms...

“Toe ek daar (by die tronk) inloop... Net die manier wat hy my gegroet het: ‘Dagsê, ek is Le Roux.’ Ek was half... ‘O, jy het maniere’.”

“Ek het ingegaan om die storie te kry, maar ek wou nie net gehoor het ‘ja, ek het hulle vermoor’ nie. Ek wou die storie agter die storie kry. Hoe dit voel, hoekom...”

En voor sy haar kon kry, was die verhouding “meer as liefde”, soos sy destyds in WhatsApp-boodskappe geskryf het.

“As ’n mens begin sien hoe iemand voor jou oor ’n paar maande op ’n goeie manier verander, kan jy nie net wegstap nie,” verduidelik sy aan Rapport.

Sy voel daar is konteks wat mense moet verstaan.

“Ek weet hier is baie mense dood, maar Le Roux en sy suster was iets soos 10 en 12 jaar oud toe hulle deel geraak het hiervan. Dis eintlik breinspoeling.

“Hy het die polisie gehelp om die verdagtes met nóg moorde te verbind. Dit is hoekom ek gedink het hy is die enigste een wat nog ’n bietjie hart oor het.

“Le Roux vertel my wat deur sy kop gaan. Hy straf homself meer as wat ander mense doen. Ek weet mense is ontsteld hieroor en ek verstaan dit self nie. Dis hoekom dit so moeilik is vir my om net te erken ‘o ja, ek is in ’n verhouding,’ want wat is ’n verhouding?

“Ek kan die definisies vir jou uitlê, dan kan ek vir jou sê hoe ek hom sien en dan kan ons besluit of dit ’n verhouding is.”

Coetzer het al by Steyn se ma, Marinda, in die tronk gaan kuier. Marinda was heel ontsteld dat die tronkbewaarders haar nie met ’n skêr wou vertrou nie, sê sy skertsend.

Oor of Coetzer vir Steyn gaan wag, is sy vaag.

“Volgens my berekeninge behoort hy ná 12 jaar te kan uitkom, maar ek gaan nie tot dan by die venster sit en huil nie,” sê Coetzer.

Sy is nie aktief op soek na ’n ander liefde buite die tronk nie.

“My nuwe buurman het my gevra of ek ’n drankie wou gaan drink.

“Ons was in die hysbak en hy het vir my gesê ek moenie vreemdelinge so maklik vertrou nie, want dalk is hy ’n reeksmoordenaar.

“Toe sê ek vir hom dis hoogs onwaarskynlik dat daar twee reeksmoordenaars in my lewe sal wees.”

Meer oor:  Marizka Coetzer  |  Le Roux Steyn  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.