Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ek wys jou ek’s ’n moordenaar’ – toe skiet hy hondjie dood

“Ek sal jou vermoor, ek gaan jou nou wys ek is ’n moordenaar.”

So het ’n rower aan Jan Botes gesê oomblikke voordat hy Sandy, hul skoothondjie, met ’n haelgeweer doodgeskiet het. Sandy het teen Botes op die vloer gesit en hy het haar warm bloed gevoel en eers gedink dat hyself getref is.

Van links is Jan Botes en sy seuns, Johan en Marius. Foto: Verskaf

Dié rooftog Vrydag op ’n hoewe buite Brits in Noordwes het Botes se seun, Johan (19), so erg getraumatiseer dat hy begin huil het. Botes het Maandag gesê die rower het in Engels vir Johan gesê hy moet “shut up” en gevra “wat sy probleem is”.

“Ek het besef die rower gaan ons almal doodskiet as ek Johantjie nie kalmeer nie,” het Botes gesê.

“Ek het vir hom gesê: ‘Johantjie, relax.’ Hy het toe rustiger geword. Ek was bang, ek het nie geweet wat om te verwag nie. Die rower se haelgeweer was op ons gerig. Al waaraan ek kon dink, was om my kinders en die rower kalm te hou en nie ’n hero te probeer wees nie.”

Volgens Botes was hy, Johan, sy ander seun, Marius (16), en Attie van Deventer, wat ook op die hoewe woon, in daardie stadium almal in een vertrek in die huis met elektriese kabels vasgebind. Die een rower het hulle met ’n haelgeweer aangehou terwyl sy makkers die huis geplunder het.

Een van die vertrekke wat die rowers geplunder het. Foto: Verskaf

Die gewapende rowers het Botes, sy seuns en Van Deventer vroegaand op die hoewe oorval. Die huis se deur was nie gesluit nie omdat die mans buite besig was om water in ’n donkie warm te maak.

Volgens Botes het die rowers geld gesoek. “Hulle het al die klere uit die kaste gegooi, net nie die kas waarin R400 onder ’n hopie klere was nie,” het Botes gesê.

Al wat die rowers wel gekry het, was Botes se beursie, maar daar was geen kontant in nie. Net voordat die aanvallers gevlug het, het hulle die mans op hul mae laat lê en hul hande en voete agter hul rûe vasgebind.

“Die rowers het ook ’n foto van ons geneem. Ons het omtrent ’n halfuur so gelê voordat ek myself en die ander losgemaak het.”

Attie van Deventer Foto: Verskaf

Johan en Van Deventer het deur die veld geloop om hulp te kry. “Daar het die rowers hulle weer gekry en aangerand,” het Botes gesê. “Hulle het op Johan gespring en Attie met die kolf van ’n wapen op sy rug geslaan. Van Johan se ribbes is beseer. Die rowers het Johan en Attie gelos toe hul wegkommotor opdaag.”

Botes het gesê die huis is “leeggesteel” – selfone, televisies, ’n rekenaar, vrieskas, mikrogolfoond, gasstoof, kospotte, ’n vleissaag, wasmasjien, gordyne, kos en selfs die battery van Botes se voertuig.

Volgens hom het Johan Sandy, ’n basterhondjie, maar sowat twee maande gehad. “Sy was flenters geskiet. Ek het alles net so in ’n duvet toegerol.”

Dié hondjie, Wagter, is ’n reun uit dieselfde werpsel as Sandy. Die Botes-gesin se rekenaar en selfone is gesteel. Hulle het gevolglik geen foto’s meer van Sandy wat doodgeskiet is nie, maar Wagter en Sandy het volgens hulle baie dieselfde gelyk. Foto: Verskaf

Die gesin se jackrussell, Joe, is gelukkig nie beseer nie. Botes het gesê AfriForum gaan hulle nou met berading bystaan. Hy wil ook die veiligheid op die hoewe verbeter.

Die hoewe behoort aan ’n groep wat boerderye in die omgewing bedryf. Botes werk as ’n mentor vir die boere sodat hulle kos aan hul gemeenskappe kan voorsien.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het gesê niemand was teen Maandagmiddag nog vasgetrek nie.

Meer oor:  Brits  |  Kleinhoewe  |  Skiet  |  Hond  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.