Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Eks-dokter rand glo man met gholfstok by sy huis aan
Dr. Rashid Mahfouz

’n Immigrante-dokter wat in 2015 in die hooggeregshof in Kaapstad van die mediese rol geskrap is en in 2020 in die handelshof in Bellville aan bedrog skuldig bevind is, word nou deur verdere strafregtelike klagte in die gesig gestaar.

Dr. Rashid Mahfouz (62), oorspronklik van Koeweit, word nou deur die polisie in Athlone ondersoek nadat hy vroeër vandeesmaand na bewering ’n bejaarde sakeman van Rylands, Kaapstad, by dié se huis met ’n gholfstok aangerand het.

Die sakeman het glo ’n aansienlike bedrag geld by Mahfouz geleen, maar sukkel glo om hom terug te betaal.

Bronne het gesê Mahfouz is op 8 Januarie vanjaar na die sakeman se huis om te gaan hoor wanneer hy betaal word.

Toe hy glo nie ’n antwoord kry wat hom tevrede stel nie, het hy na bewering ’n gholfstok uit sy voertuig gaan haal en die slagoffer daarmee aangerand.

Die skade aan die veiligheidshek en voordeur van die huis van ’n sakeman van Rylands, Kaapstad, nadat hy glo deur ’n ander man aangerand is. Foto: Verskaf
Die gholfstok waarmee ’n sakeman van Rylands na bewering aangerand is. Foto: Verskaf

Nadat die sakeman glo daarin geslaag het om sy veiligheidshekke te sluit en die gholfstok by hom af te vat, het Mahfouz glo na sy voertuig gegaan en na bewering ’n ander wapen uitgehaal en die sakeman daarmee deur die geslote hekke gedreig.

Volgens bronne het die sakeman klagte van intimidasie, aanranding en opsetlike saakbeskadiging by die polisie aanhangig gemaak, maar hy is glo bang dat Mahfouz kan terugkeer.

Netwerk24 het Mahfouz Dinsdag gekontak. Hy het eers die aantygings teen hom ontken, en toe gesê sy prokureur sal op die vrae reageer. Hy wou egter nie sy prokureur se besonderhede gee nie. Daarna het hy nie weer oproepe geantwoord nie.

Mahfouz is in 2015 in die hooggeregshof in Kaapstad van die mediese rol geskraap nadat bevind is dat hy buite die bestek van sy beroep opgetree het.

Die Valke het hom in 2018 weer in sy spreekkamers in Philippi in hegtenis geneem.

Daar is gevind dat hy sonder ’n mediese lisensie as dokter in onder meer Khayelitsha en Philippi gepraktiseer het.

Hy is op 24 Februarie 2020 skuldig bevind aan twee aanklagte van bedrog en aan ’n aanklag wat met die Oortreding van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe verband hou.

Die hof het bevind dat hy as ’n mediese dokter opgetree het terwyl hy nie as sulks geregistreer is nie, dat hy mense ondersoek het, gediagnoseer het, medisyne voorskryf het en in sommige gevalle siekbriewe verskaf het aan mense sonder dat hulle hom gaan spreek het.

Mahfouz is toe ’n boete van R5 000 opgelê.

Meer oor:  Rashid Mahfouz  |  Athlone  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.