Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Eksklusief: Kilian se pa praat openhartig ná moord op speurder
Zane Kilian en sy seun op 18 September, die dag waarop lt.kol. Charl Kinnear vermoor is, in ‘n apteek in Springs.
Zane Kilian in die apteek in Springs.
Zane Kilian wag op die medisyne wat hy by ‘n apteek in Springs gekoop het.
Zane Kilian vat die medisyne wat hy by 'n apteek gekoop het.

Zane Kilian (39), beskuldigde in die moordsaak van lt.kol. Charl Kinnear (52), se pa het Maandag vir die eerste keer oor sy seun se inhegtenisneming gepraat.

Kilian het eksklusief aan Netwerk24 vertel oor sy bittere ontevredenheid omdat sy seun al amper 30 dae in aanhouding is sonder dat hy om borgtog aansoek kon doen.

Hy sê indien sy seun se borgtogaansoek, wat op 26 Oktober begin, nie toegestaan word nie, sal hulle geen ander keuse hê nie as om ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad in te dien.

“Zane weet nie hoe dit met sy kinders gaan nie. Sy jongste seun bly by hom en het spesiale aandag nodig. Ons weet nie hoe dit met Zane gaan nie. Ek voel magteloos, soos iemand wie se hande agter sy rug vasgebind is. Magteloos om my kind te help.”

Zane is op 22 September in die vroeë oggendure deur Wes-Kaapse speurders by sy huis in Springs aan die Oos-Rand in hegtenis geneem.

Die staat beweer hy is die man wat Kinnear se selfoon tot die dag dat hy (Kinnear) op 18 September vermoor is, nagespoor het.

Kinnear was tot met sy dood ’n speurhoof by die Wes-Kaapse bende-eenheid.

Zane staan op tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Kilian sê sy seun is nie ’n moordenaar nie. “Hy was dan nie eers in die Kaap toe kol. Kinnear geskiet is nie. Hy het beslis nie die sneller getrek nie.”

Zane Kilian word van die moord op lt.kol. Charl Kinnear aangekla. Die staat beweer hy het Kinnear se selfoon nagespoor.

Hy sê Zane was amper tien jaar laas in Kaapstad.

Hy kan ook nie verstaan hoekom hy ook van sameswering aangekla word nie. “Sekerlik moet jy iemand ken om van sameswering om moord te pleeg aangekla te kan word?”

Kilian sê Zane doen al vir jare die nasporing van selfone. Volgens hom het hy dit ook al gedoen vir polisielede in sake wat hulle ondersoek, vir mense wie se kinders as vermis aangemeld word en vir mense wat vermoed dat hul eggenoot hulle verkul.

“Ek is seker as Zane geweet het sy nasporing sou tot iemand se dood lei, sou hy dit nooit gedoen het nie.”

Kilian sê hy weet nie wie die Mohammed is wat glo vir Zane gehuur het om Kinnear se selfoon na te spoor nie.

Kinnear se selfoon is van Maart tot 18 September 2020 kort voor 15:25 nagespoor. Kinnear is omstreeks 15:03 voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, deur ’n onbekende persoon in ’n rooi kappietop doodgeskiet.

Hy het op die toneel gesterf.

“Dis om dié rede dat ek nie verstaan dat hulle vir Zane van moord beskuldig nie. Hy was daardie tyd met sy seun in ’n apteek in Springs waar hy medisyne gekoop het.”

Hy het ook foto’s van kringtelevisiekameras ter stawing hiervan aangestuur.

Kilian het ook beweer die polisie misken sy seun se menseregte. Sy seun se prokureur is ook verbied om tydens een konsultasie leesstof en koeldrank vir hom te neem. “Ek moes my tot die Menseregtekommissie wend net sodat my seun leesstof kon kry,” sê Kilian.

Op ’n vraag of Zane wel ’n private speurder is, het Kilian dit ontken. Volgens hom bied sy seun wel die dienste aan, maar hy kontrakteer dit uit aan mense wat geregistreer is om dit te doen.

“Op die agterkant van sy besigheidskaartjie staan byvoorbeeld dat hy private speurwerk, opsporing, BBP-beskerming en ander dienste aanbied.

“Indien hy genader word om enige van daardie dienste te lewer, gaan hy (Zane) gewoonlik na een van sy kontakte wat dié diens lewer en vra hulle om ’n kwotasie met sy diensfooi ingereken te stuur.”

Adv. Eckhardt Rosemann, Zane se regsverteenwoordiger, het met Kilian se verskyning op 9 Oktober in die landdroshof in Bishop Lavis aan die hof gesê dat hy (Zane) ’n private speurder is en dat hy daarom nie ’n wet sou oortree het sou hy Kinnear se selfoonsein nagespoor het nie. Hy het ook ’n sertifikaat as bewys hiervan by die hof ingedien.

Die Reguleringsowerheid vir die Private Sekerheidsbedryf (Psira) het egter verlede week by navraag gesê Zane is nie as ’n private speurder by hulle geregistreer nie.

Volgens Kilian doen Zane uitsluitlik skuldinvordering vir banke.

Zane se borgtogaansoek begin volgende Maandag in die streekhof in Bellville.

Meer oor:  Zane Kilian  |  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.