Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
EKSKLUSIEF: Kinnear se moord op kamera vasgelê

Netwerk24 het eksklusiewe skermgrepe bekom van die minute voor die moord op lt.kol. Charl Kinnear. Op een van die skermgrepe kan die skokkende oomblik net voordat die skote afgevuur word wat Kinnear se lewe beëindig het, duidelik gesien word.

Dis Vrydag 18 September 2020. Lt.kol. Charl Kinnear is naby sy huis in Bishop Lavis, Kaapstad, die buurt waar hy ook sy hele lewe lank al woon.

Hy is op pad huis toe, na Nicolette, sy vrou van die afgelope 27 jaar, en hul twee seuns, Carlisle (24) en Casleigh (19).

Dis 14:50:38.

Sy sluipmoordenaar kry die inligting dat Kinnear naby Bishop Lavis is. Hy begin te hardloop uit die rigting van Concorde- en Sidneyvalestraat na Gearingstraat waar Kinnear woon.

Charl Kinnear se moordenaar begin in die rigting van Gearingstraat te hardloop.

Dit neem die sluipmoordenaar wat in ’n rooi kappietop en ’n Adidas-sweetpakbroek geklee is, sowat tien minute om by Gearingstraat uit te kom. Hy het vermoedelik verdwaal en moes in ’n stadium omdraai en terugloop soos hy gekom het om by Gearingstraat uit te kom.

Hier word hy weer op sekerheidskameras vasgevang.

Dis 15:02:47.

Charl Kinnear se moordenaar word hier die eerste keer op sekerheidskameras in Gearingstraat vasgevang.

Die man word die eerste keer deur sekerheidskameras van inwoners in Gearingstraat afgeneem. Hy loop heel onskuldig verby kinders in die straat, met sy hande agter sy rug.

Hy loop hier met sy hande agter sy rug op die sypaadjie oorkant Kinnear se huis.

Kinnear se motor staan reeds in die straat voor sy huis. Hy wag vir sy seun Carlisle om sy voertuig uit te trek sodat hy sy voertuig kan intrek.

Om 15:02:50 word die man deur Kinnear se veiligheidskameras afgeneem. Hy loop op die sypaadjie oorkant Kinnear se huis. Hande agter die rug.

Nege sekondes later, om 15:02:59 is die man skuins oorkant Kinnear se huis. Kinnear wag in die straat in sy motor. Die neus van sy seun se voertuig word vasgevang op die beeld. Hy is besig om uit die oprit te trek.

Hier loop die man steeds op die sypaadjie oorkant Charl Kinnear se huis.

Die man steek in die volgende paar sekondes ná 15:02:59 die straat oor en loop tot by Kinnear se voertuig.

Die man nader die einde van die straat om dit oor te steek na waar Charl Kinnear se voertuig in die pad staan. Die motor se neus is regs op die foto sigbaar.

In die volgende beelde om 15:03:19 en 15:03:20 staan die sluipmoordenaar by die bestuurderskant van Kinnear se voertuig met die moordwapen in sy hand.

Charl Kinnear se moordenaar staan by sy voertuig met ’n voorwerp, vermoedelik die moordwapen, in sy hand.
Hier trek hy die sneller van die skote wat Charl Kinnear se lewe geëis het.

Kinnear is glo meer as vyf keer geskiet. Die meeste van die skote was in sy bolyf. Hy is op die toneel dood.

Netwerk24 het op Saterdag 19 September berig Kinnear, 'n speurhoof van die Wes-Kaapse bende-eenheid, se selfoon is vir weke voor sy moord nagespoor.

Die oggend van sy moord het iemand sy selfoon van omstreeks 08:00 tot kort ná 15:00 nagespoor.

Die 39-jarige Zane Kilian is op Dinsdag 22 September deur speurders verbonde aan die Wes-Kaapse eenheid vir ernstige geweldsmisdade, die teenbende-eenheid en die Valke in hegtenis geneem.

Kilian is die man wat glo Kinnear se selfoon vir mense in die Wes-Kaap nagespoor het. Hy het Vrydag in die landdroshof in Bishop Lavis op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie verskyn.

Die saak teen Kilian is tot 5 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel. Daar is ook berig dat Kinnear geteiken is oor sy ondersoek na die uitreik van onwettige vuurwapenlisensies by Gautengse polisiekantore. Hy was glo op die punt om senior polisielede in verband met die smokkelnetwerk in hegtenis te neem.

In die weke voor sy dood het hy in Springs aan die Oos-Rand gewerk waar hy dossiere, wat verband hou met die senior polisielede se betrokkenheid by die smokkelnetwerk, ondersoek het.

Netwerk24 het vroeër berig Kinnear het Nafiz Modack, een van die vermeende rolspelers in Kaapstad se onderwêreld, ondersoek in verband met sy beweerde betrokkenheid by die uitreik van onwettige vuurwapenlisensies by polisiekantore in Gauteng.

Modack en 20 ander mense, wat insluit vuurwapenhandelaars en polisielede, is reeds in Junie vanjaar in verband daarmee in hegtenis geneem en het op 17 Junie in die landdroshof in Kempton Park verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling en aanklagte wat verband hou met oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Modack het Vrydag erken dat hy vir Kilian ken. Hy het gesê dat hy van Kilian se dienste gebruik gemaak het om skuldinvordering vir hom in Gauteng te doen.

Die Valke het gesê die ondersoek na Kinnear se moord gaan voort en nog inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.

Meer oor:  Charl Kinnear  |  Kinnear-Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.