Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
EKSKLUSIEF: Só vier Henri van Breda eerste verjaardag agter tralies

Net hy en sy medegevangenes. Geen koek, vriende, besoekers, telefoonoproepe of selfs ’n spesiale ete nie.

Dis hoe die driedubbele bylmoordenaar Henri van Breda Donderdag sy 24ste verjaarsdag in die jeugsentrum by die Drakenstein-gevangenis buite die Paarl deurgebring het.

Dit is in skrille kontras met sy verjaardag ’n jaar gelede toe Van Breda in die getuiebank in die hooggeregshof in Kaapstad sy weergawe van wat gebeur het, ten aanskoue van die hele land, gegee het.

Toe was hy in ’n netjiese pak geklee, omring deur nabye familielede en sy meisie, Danielle Janse van Rensburg.

Henri van Breda verlede jaar tydens sy verhoor in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Donderdag was dit net hy in sy oranje tronkoorpak.

’n Bron by die gevangenis sê daar word geen uitsondering op die reëls gemaak net omdat iemand verjaar nie.

“Dit is ’n gevangenis, nie ’n hotel nie.”

Volgens die bron is van Breda ’n maksimumveiligheidsgevangene. Hy is geregtig op twee besoeke van ’n uur en ’n half per maand. Hy kan ook net een telefoonoproep per maand maak. Geen besoeke en telefoonoproepe word op weeksdae toegelaat nie. Hy mag ook nie voorafbereide kos met besoeke ontvang nie.

Van Breda, wat saam met minstens 28 ander gevangenes in ’n gemeenskaplike sel aangehou word, word slegs vir ’n uur en ’n half per dag buite toegelaat.

Die bron sê hy kan weer van Saterdag af besoekers ontvang. Dit mag net twee volwasse besoekers en twee kinders per besoek wees.

Volgens die bron het Van Breda op 28 Oktober sy laaste besoeker – sy meisie – vir Oktober gehad. Sy besoekers is gewoonlik sy meisie en sy oom, André du Toit.

Van Breda is in Junie vanjaar in die hooggeregshof in Kaapstad drie keer lewenslange tronkstraf vir die moord op sy broer, Rudi (22), sy pa, Martin (54), en sy ma, Teresa (55), in Januarie 2015 opgelê. Hy het ook 15 jaar tronkstraf gekry vir die aanval op sy suster, Marli. Sy het dit oorleef, maar kan niks van die aanval onthou nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.