Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Metropolisie slaan en skop glo duikklopper, stiefseun

’n Duikklopper van Springs gaan ’n klag teen lede van Ekurhuleni se metropolisiediens (EMPD) indien nadat hy en sy stiefseun glo Woensdag aangerand is toe hulle ’n metropolisielid daarop wys dat hy die wet oortree deur in ’n eenrigtingstraat op te ry.

Kobus van der Nest wys die rooi merke nadat hy glo Woensdag deur metropolisiebeamptes in Springs aangerand is. Foto: Verskaf

In ’n video van die voorval kan gesien word hoe ’n groep metropolisiebeamptes Kobus van der Nest (40) hardhandig by sy duikkloponderneming in Geduld rondpluk toe hy weier dat hulle hom in hegtenis neem. In die beeldmateriaal rig een van die metropolisiebeamptes selfs ’n vuurwapen op hom.

“Die bom het gebars toe ons ’n metropolisiebeampte, wat verby ons onderneming ry, daarop wys dat hy in ’n eenrigtingstraat opry en die wet oortree,” het Van der Nest Donderdag aan Netwerk24 gesê.

Van der Nest, sy stiefseun Reeghart Colyn (18) en sy broer Willem van der Nest (47) het toe in ’n woordewisseling met die metropolisiebeampte betrokke geraak wat glo gedreig het dat hy hulle gaan toesluit.

“Die metropolisieman was baie arrogant en het gesê hy gaan ons in hegtenis neem en aankla omdat ons ons by ‘polisiesake’ inmeng.

“Nog metropolisiebeamptes het opgedaag en een van hulle het selfs ’n wapen op my gerig toe ek my wou teësit. My broer, wat ’n oudpolisieman is, het toe almal tot bedaring gebring en gesê ons moenie enigiets onwettigs doen nie en eerder saam met hulle gaan. Ek en Reeghart is toe na die metropolisiekantoor geneem,” het hy gesê.

Volgens Van der Nest het die metropolisiebeamptes hulle daar aangerand voordat hulle later na die polisiekantoor in Springs geneem is.

“Hulle het ons geskop en geslaan en was baie kru en beledigend. My linker-oordrom het gebars en ons het ’n paar rooi merke en blou kolle,” het Van der Nest gesê.

Van der Nest wys nog merke. Hy beweer metropolisielede het hom en sy stiefseun aangerand. Foto: Verskaf

Hulle is Donderdagoggend ná ’n aand in die selle vrygelaat.

Klagte van aanranding, verset teen inhegtenisneming, intimidasie en inmenging by die uitvoering van ’n metropolisiebeampte se pligte staar Van der Nest in die gesig. Reeghart word van die laaste twee klagte aangekla.

“Ek is geskok oor wat gebeur het en het intussen regshulp ingewin om die saak verder te voer. Die metropolisie het geen rede gehad om ons onderneming te betree en ons so hardhandig te behandel nie,” het Van der Nest gesê.

Kobedi Mokheseng, woordvoerder van die EMPD, het Donderdag die voorval bevestig en gesê hy kan geen kommentaar lewer voordat die ondersoek afgehandel is nie.

“Indien die klaer daarvan oortuig is dat metropolisielede onregmatig opgetree het, moet hy ’n klag by die interne ondersoekeenheid by die EMPD se kantore in Kempton Park aanhangig maak. Die metropolisie sal dan die dossier aanvra oor wat op die dag gebeur het en met ’n interne ondersoek begin,” het Mokheseng gesê.

Meer oor:  Aanranding  |  Metropolisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.