Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Elim-meisie (6) se vermeende moordenaar al voorheen aangekla

Delvina Europa (6) se vermeende moordenaar en verkragter is reeds in 2014 skuldig bevind aan die seksuele aanranding van ’n minderjarige kind.

Die vonnis wat hy opgelê is, is onbekend.

Delvina Europa (6)Foto: Verskaf

Sy slagoffer in 2014 was ’n 15-jarige meisie met wie hy toe in ’n seksuele verhouding was.

In 2018 is daar nog ’n verkragtingsklag teen hom ingedien. Sy vermeende slagoffer was toe glo ’n 14-jarige meisie. Die klag teen hom is egter later teruggetrek.

Delvina se lyk is Dinsdag kort ná 07:00 in bosse agter die laerskool in Elim buite Bredasdorp in die Wes-Kaap gevind. Dit het in ’n plas water gelê. Sy is vermoedelik ook verkrag.

Sy is Maandagaand by die Bredasdorp-polisiekantoor as vermis aangemeld.

Die 35-jarige man is sowat ’n uur nadat Delvina se lyk gevind is, in Barrydale vir ondervraging deur speurders verbonde aan die Bredasdorp-polisiekantoor vir ondervraging ingeneem. Hy was glo daar vir werk.

Die man, ’n boorling van Elim, het glo sowat ’n maand gelede uit ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslaafdes gekom.

Delvina se voog, haar tannie Carol Europa, het Woensdag gesê sy sal haar altyd as hul laggende kind onthou.

Europa en haar man sien sedert Desember om na Delvina, haar 14-jarige suster en 20-jarige broer. Die kinders se ma is op 29 Desember in die hospitaal in Bredasdorp dood.

Hul pa werk in Kaapstad.

Europa is Woensdag gevra hoekom hulle Delvina eers Maandagaand as vermis aangemeld het.

“Delvina sou saam met haar suster by ons buurmense by hul huis in die Kaap vir die res van die skoolvakansie gaan kuier het. Die buurmense het gesê dat hulle Maandagoggend vroeg sou ry en het gevra of dit reg sal wees as Delvina en haar suster sommer by hulle slaap.”

Omdat sy die buurmense reeds jare ken, het sy en haar man ingestem dat die twee susters by hulle kon oorslaap.

Ons het nie geweet dat mens nie meer 24 uur moet wag voor jy iemand as vermis aanmeld nie. Dis hoekom ons en die gemeenskap eers self na haar begin soek het. Ons het nie geweet nie.

Wat hulle egter nie geweet het nie, is dat die man wat vir ondervraging ingeneem is, glo reeds die Sondagmiddag gesien is waar hy met die meisie in die rigting van die bosse agter die skool stap.

Europa sê dat sy die Maandagoggend vroeg opgestaan het, want sy het gewag dat die bure die kinders se klere moet kom haal. Sy het in die meisies se kamer gaan kyk en gesien hulle is nie daar nie. “Ek het toe vir myself gesê hulle is seker al weg.”

Sy het ’n WhatsApp-boodskap aan een van die ander buurkinders gestuur en gevra of Delvina en haar suster al saam weg is Kaap toe. “Een van die grootmense het geantwoord dat Delvina se suster saam met hulle is, maar nie Delvina nie.

Hulle het toe onmiddellik na Delvina begin soek.

Sy bly stil, snik. “Ons het nie geweet dat mens nie meer 24 uur moet wag voor jy iemand as vermis aanmeld nie. Dis hoekom ons en die gemeenskap eers self na haar begin soek het. Ons het nie geweet nie. Ek sou haar nooit versaak nie. Ons, ek en my man, het dan toe my suster gesterf het, besluit dat ons na hulle gaan kyk. Delvina, haar broer en suster is soos my eie kinders.”

Polisiebronne het Woensdag gesê lede van die kinderbeskermingseenheid het Dinsdag in Bredasdorp aangekom en die ondersoek oorgeneem. Hulle het die man Dinsdag na die hospitaal geneem waar daar bloed getrek is vir DNS-toetse en hy is ook ondersoek vir enige skrape en of merke.

Volgens die bronne word die man nog ondervra, maar het die polisie tot Donderdag kans om hom aan te kla, al dan nie.

Meer oor:  Delvina Europa  |  Bredasdorp  |  Elim  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.