Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Elma Smit en span beroof toe hulle rugbyster besoek

Meer as R500 000 se toerusting is gesteel toe die bekende sportaanbieder Elma Smit en haar span Saterdag die slagoffers van ’n gewapende rooftog was.

Elma Smit Foto: Argief

Smit was teen 08:30 in Khayelitsha besig met ’n onderhoud met Babalwa Latsha, ’n rugbyspeler vir die vroue-Springbokspan, toe hulle deur rowers met vuurwapens oorval is.

Sy het Sondag aan Netwerk24 gesê die rowers het haar, Latsha en haar twee kameramanne op hul hurke laat sit en afkyk.

Die voorval was buite Latsha se huis in Khayelitsha en ten aanskoue van haar ouers.

“Ons het aanvanklik gedink daar is net drie rowers, maar omstanders sê nog mense het na die toneel gehardloop om te help om die toerusting te steel.

“Babalwa se pa het uitgehardloop, maar gaan staan toe hy besef daar is niks wat hy kan doen nie."

Smit se eerste gedagte was dat die mense moes vat wat hulle wil en net niemand leed aandoen nie. “Gelukkig is dit wat gebeur het en ons almal is ongedeerd.”

Meer as R500 000 se toerusting, waaronder drie kameras, ligte en klanktoerusting, is gebuit. ’n Selfoon, beursie en kamerasak met geheuekaartjies daarin is ook gesteel. Daarop is baie van Babalwa se beeldmateriaal en ook beeldmateriaal van Pieter-Steph du Toit (Springbokrugbyspeler) wat hulle vroeër die week opgeneem het.

Babalwa Latsha oefen by haar huis tydens die staat van inperking. Foto: Gallo Images

“Dit het vir niemand waarde behalwe vir ons nie,” sê Smit.

Sy sê sy het weke lank uitgesien na die onderhoud met Latsha. Dit sou op ’n internasionale platform uitgesaai word.

“Sy doen ongelooflike werk in haar gemeenskap. Sy is deel van ’n projek wat vroue help om saniteerprodukte te bekom en sy rig ook rugby af in die gemeenskap.

"Ons wou tydens die onderhoud hê sy moet ’n rugbybal op en af gooi vir agtergrondskote en toe spot sy dat sy nie eintlik meer rugbyballe het nie. Die kinders in die gemeenskap kom leen altyd haar balle, maar bring dit nooit terug nie en sy het nie die hart om op te hou gee nie.

Dit was ’n storie met soveel hoop en ek is werklik teleurgesteld.

“Dit was ’n storie met soveel hoop en ek is werklik teleurgesteld,” sê Smit.

“Nadat ons ’n klag ingedien het, het die polisie agter ons aangery tot by die hoofweg. Ek is gelukkig, want ek kon na my huis kom. Babalwa is die een wat daar moet bly, want sy wil ’n verskil in haar gemeenskap maak."

Sy hoop om weer ’n kans te kry om ’n onderhoud met Latsha te doen.

’n Beloning van R2 500 word vir die swart Tenba-kamerasak met die geheuekaartjies daarin uitgeloof.

Enigeen met inligting kan Smit op Twitter kontak.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval bevestig. Hy sê in ’n verklaring dat die polisie soek na drie verdagtes wat in ’n Volkswagen Polo gevlug het.

Enigeen met inligting kan die polisie by 0860 010 111 bel.

Meer oor:  Elma Smit  |  Babalwa Latsha  |  Kaapstad  |  Khayelitsha  |  Rooftog  |  Kameratoerusting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.