Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Enorme vrag sybokhaar in PE gekaap

’n Hele vrag sybokhaar is Woensdagaand deur kapers in Port Elizabeth gebuit. Die voorval het volgens die polisie omstreeks 23:00 in Uitenhageweg in Noordeinde, naby die BKB-maatskappy in Port Elizabeth gebeur toe ’n vragmotor gekaap is.

Die vragmotorbestuurder (39) wat van Queenstown in die Oos-Kaap afkomstig was, het 55 bale vervoer.

’n Wit Volkswagen Polo-motor het blykbaar voor die vragmotor ingeswenk om hom voor te keer, waarna twee gewapende mans uitgeklim en die bestuurder gedreig het.

Verder word daar beweer dat die vragmotorbestuurder by die Polo ingedwing is, terwyl een van die gewapende mans by die vragmotor ingeklim en weggery het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê volgens hul inligting het die kapers tot 02:00 met die vragmotorbestuurder rondgery, voordat hy by Njoli-plein ongedeerd afgelaai is. Die bestuurder het na die KwaZakhele-polisiekantoor gestap en die voorval aangemeld.

Janse van Rensburg sê die gekaapte vragmotor is Donderdagoggend omstreeks 03:20 in Zonostraat in Zwide teruggevind.

Die gekaapte vragmotor wat Donderdagoggend sonder die vrag sybokhaar teruggevind is.

Die vragmotor was verlate en die vrag was weg.

Volgens die polisie kan die vrag ’n waarde van sowat R300 000 hê.

’n Saak van vragmotorkaping word ondersoek. Niemand was teen Donderdagoggend in hegtenis geneem nie.

Intussen het Riaan Marais, Sybokhaar Suid-Afrika-woordvoerder, in reaksie gesê indien al die bale wat vermis word sybokhaar bevat het, sal die waarde ver meer as R300 000 wees.

“Afhangende van die tipe sybokhaar, en die werklike gewig van die bale, kan die totale waarde enigiets tussen R1,2 miljoen en R2,5 miljoen wees.”

Hy sê sodra hulle presies weet waar die bokhaar vandaan kom en waarheen dit op pad was, sal ’n meer akkurate waarde geskat word.

Sybokhaar diefstal is volgens Marais die afgelope paar jaar ’n groot bron van kommer.

“Tot nou toe was die grootste probleem bokhaar wat kort ná skeertyd uit store op plase gesteel is. Dit is egter nie die eerste keer dat ’n vragmotor vol bokhaar geteiken word nie en ons is bekommerd dat dit ’n nuwe tendens kan word.”

Dié groep waarsku dat elke baal sybokhaar ’n produsentenommer het wat na ’n spesifieke plaas verwys en dat enige bokhaar daarsonder dadelik bevraagteken moet word.

“Kopers en makelaars is bewus hiervan en het onderneem om slegs bokhaar te koop wat tot by die oorsprong naspeurbaar is,” sê Marais.

“Sybokhaar SA is tans in besprekings met privaat veiligheidsfirmas in ’n poging om stelsels in plek te sit wat kan help om diefstalle op te volg en ons plase te beveilig.”

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Kaping  |  Sybokhaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.