Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Erger as ’n harde têkkel: Duane word gekraak

Die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen het ’n rowwe week agter die rug. Eers het kuberkrakers beheer oorgeneem van sy e-pos-, PayPal- en sosialemedia-rekeninge en toe begin hulle hom dreig dat dinge “nog erger gaan raak” as hy nie meer as R8 000 opdok nie.

Duane Vermeulen Foto: Getty Images

Vermeulen sê die probleme het begin met ’n e-pos wat lyk of dit van Instagram kom. In dié boodskap word hy aangeraai om die status van sy Instagram-rekening te verander van dié van ’n normale gebruiker tot dié van ’n “creator”.

“Ek weet hoe dit gaan klink, maar dit het regtig soos die ware Jakob gelyk,” sê die Bok-breker.

“Ons sit elke nou en dan foto’s op Instagram vir borge. Volgens die e-pos was dit ’n oortreding van Instagram se reëls en ek moes darem my gebruikerstatus verander. Maar toe ek op die skakel klik, vat dit my na ’n ander plek toe. Ek het dadelik probeer uitgaan, maar dit was te laat,” sê Vermeulen.

Ek weet hoe dit gaan klink, maar dit het regtig soos die ware Jakob gelyk.

Toe hy hom weer kom kry, probeer die krakers aankope doen met sy PayPal-rekening. Gelukkig kon sy vrou, Ezél, by sy rekening inteken en hulle keer.

Intussen het die krakers hom op WhatsApp begin dreig. Hulle het sy ID-nommer en toegang tot sy rekeninge vir e-pos, PayPal, Instagram en Twitter, het die krakers gesê. Hulle gaan sy Whats-App ook “vat” as hy nie $500 (sowat R8 900) betaal nie.

As hy die sender blokkeer, sal dinge nog erger raak, lui een van die boodskappe.

Die dreigboodskappe wat Duane Vermeulen ontvang het van die kuberkrakers wat sy sosialemedia-, e-pos- en PayPal-rekeninge oorgeneem het. Foto: Verskaf

Die krakers het boonop Vermeulen se sosialemedia-rekeninge, met sy meer as 100 000 volgelinge, as te koop geadverteer – teen $500 se bitcoin.

“ ’n Mens weet dit gaan nie die einde wees as jy betaal nie,” sê Vermeulen. “Toe ek begin navraag doen, het ek gehoor dit het al met baie mense gebeur. Dit is sleg, want jy verloor die kommersiële waarde van die mense wat jou volg.”

Hy het forensiese kenners ingekry om te help.

“Ek het my Twitter-rekening gesluit en ’n nuwe Instagram-rekening begin, maar ek is steeds besig om te probeer om my ou rekening terug te kry.”

Conrad David, direkteur van die digitale konsultante Hashtag South-Africa, sê dit kan enigeen oorkom. “Dink mooi voordat jy op skakels klik wat jy nie aangevra het nie.

“Sosialemedia-platforms sal jou nooit vra vir toestemming of veranderings as jy nie daarvoor gevra het nie,” sê hy. Dit is ook belangrik om te let op die e-posadres van waar die versoek kom. As dit nie van die platform se domein kom nie, is dit waarskynlik vals.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Kuberkrakers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.