Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ermelo: Boer wreed met panga vermoor
moolman
Moolman Meyer

“Dit was nie mooi om te sien nie . . . hy is erg verniel.”

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, was Woensdag op die toneel waar Moolman Meyer (67), ’n boer van Ermelo in Mpumalanga, wreedaardig vermoor is.

Geldenhuys het Meyer vir jare geken. Meyer se plaas Waaihoek is sowat 10 km van Geldenhuys se plaas.

’n Massiewe soektog is deur TLU SA-lede, polisie en plaaswaglede van stapel gestuur nadat Meyer die naweek vermis geraak het.

Meyer is vermoedelik al die naweek vermoor.

Hy is Saterdag laas lewend gesien toe hy en twee werkers met ’n trekker en sleepwa hout in die veld gaan laai het.

Dié hout het Meyer vir ’n ekstra inkomste verkoop, sê Geldenhuys.

Meyer het alleen op die plaas gewoon. Hy het vier seuns, waarvan drie in Amerika woon. Die vierde seun is ’n langafstandvragmotorbestuurder en het die nuus van sy pa ontvang terwyl hy in Namibië was.

Martin Struthers, ’n jarelange vriend van Meyer, het Dinsdag op die plaas opgedaag op soek na hom.

Struthers sê hy was bekommerd nadat hy ’n week laas van Meyer gehoor het.

Bloedspatsels teen die wiel het Woensdag getuig van die brutale geweld waarmee Moolman Meyer (67), ’n boer van Mpumalanga vermoor is op sy plaas in die Sheepmoor-gebied naby Ermelo.

Meyer sou twee keer ’n week in die dorp gaan kuier en koffie drink by Struthers.

Struthers het Dinsdag hulp ontbied toe hy Meyer se bakkie by die huis kry, maar geen spoor van sy vriend kon kry nie.

Die huishulp het aan Struthers gesê Meyer is Saterdag saam met twee mans weg om hout te gaan oplaai.

Een van die mans het later glo teruggekom en gesê Meyer soek sy selfoon. Die man het daarvoor gesoek en is weg daarmee.

“Dit is vir my baie hartseer wat gebeur het, Meyer was ’n stil mens en ons het mekaar al jare geken,” sê Struthers.

Die soektog het Dinsdag tot laat deur die nag geduur en is Woensdagoggend vroeg hervat. Selfs ’n vliegtuig is ingespan om te help met die soektog.

Meyer se lyk is net ná 11:00 in ’n plantasie, sowat 800 m van die opstal, langs sy rooi Massey Ferguson-trekker gevind.

Hy het op die grond, naby die linker agterste wiel gelê, met sy lyf weg van die trekker af.

Bloedspatsels oor die wiel het getuig van die brutale geweld waarmee Meyer vermoor is.

Hy het verskeie diep sny- en kapwonde oor sy kop, lyf en arms gehad.

“Hy is uitmekaar uit gekap met ’n panga. Tot tussen sy vingers was daar kapmerke gewees soos wat hy probeer keer het. Dit is nie iets wat mens graag wil sien nie, en ook nie van iemand wat jy ken nie,” sê Geldenhuys.

Dit is nie iets wat mens graag wil sien nie, en ook nie van iemand wat jy ken nie.

Doors Meyer, een van Moolman se seuns, het Woensdagaand in Suid-Afrika aangekom.

Hy was halfpad op pad na Windhoek toe hy die nuus hoor dat sy pa vermis en toe later dood aangetref is.

“My pa was ’n eerlike en sagte mens,” het Doors gesê.

Meyer Moolman (67), ’n boer van Mpumalanga, is op sy plaas Waaihoek in die Sheepmoor-gebied vermoor.

Sy pa het meer as 50 jaar op die plaas geboer, maar in die laaste jare begin afskaal.

“Ons het ook jare saam my pa gewerk, hy was ’n tawwe ou gewees, maar het goed met sy werkers klaargekom,” sê Doors.

Hy en sy oudste broer, vanuit Amerika, sal mekaar Vrydag op die plaas ontmoet om begrafnisreëlings te tref.

Kol. Mtsholi Bhembe het die voorval bevestig en gesê ’n saak van moord word ondersoek.

Hy kon nie dadelik bevestig of Meyer se werkers gesoek word as deel van die polisie se ondersoek nie.

“Ons is nog besig met die ondersoek en sal ’n verklaring uitreik sodra ons meer weet,” sê Bhembe.

Geldenhuys het die feit betreur dat Meyer doodgemaak is vir selfone.

“Soos baie ander vorige mediaberigte, wil ons weer eens bevestig, plaasmoorde gaan gepaard met erge verminking van die slagoffers. Dit is vir ons onaanvaarbaar en daar sal daadwerklik iets gedoen moet word van die regering se kant af,” sê Geldenhuys.

Hy het daarop gewys dat die regering taakspanne saamstel vir geweldsmisdade soos transitorooftogte.

“Met plaasmoorde moet dit ook gebeur,” sê Geldenhuys.

* Een van Meyer se broers, Joshua Meyer (64), het ’n plaasaanval op hom en sy werkers oorleef. Joshua is in die aanval met ’n mes in die arm gesteek. Vuurwapens is tydens die aanval gesteel. Joshua wou Woensdag nie met die media praat oor die moord op sy broer nie.

Soos baie ander vorige mediaberigte, wil ons weer eens bevestig, plaasmoorde gaan gepaard met erge verminking van die slagoffers.

Meer oor:  Ermelo  |  Moolman Meyer  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.