Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ernie twiet oor plaasmoorde
Ernie Els Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Ernie Els het vir hom lof én gramskap in die sosiale media op die hals gehaal met ’n twiet oor plaasaanvalle.

Els het Woensdagaand op sy Twitter-rekening @TheBig_Easy geskryf: “Die wêreld moet kennis neem van die voortslepende plaasaanvalle in Suid-Afrika! Mense word elke dag vermoor!!” 

Van sy 114 000 volgelinge het 612 aangedui hulle hou van die boodskap, 476 het dit hertwiet en 79 het teen Woensdagaand omstreeks 22:00 kommentaar daarop gelewer.

Die kommentaar het gewissel van lof deur ondersteuners soos @FJErasmus: “Dankie Ernie dat jy dit aanspreek, en die platvorm gebruik om die wêreld bewus te maak! Jys ’n yster”(sic) - tot teregwysings deur ondersteuners soos @Sisanda_H: “Vertel hulle ook van die rasistiese boere wat ’n man in ’n kis gesit het, Ernie.”

Dit het ’n debat oor ras ontlok, terwyl nog gebruikers gesê het die stemme van ander sporthelde soos die oud-Springbok-kaptein Francois Pienaar, oud-Protea-kolwer Jacques Kallis en oud-Protea-kaptein Graeme Smith ontbreek.

Op Facebook het videoboodskappe gevolg op die roerende videopleidooi van Chris Loubser vir optrede ná die moord op Joubert Conradie, ’n boer van Klapmuts in die Wes-Kaap. Sy video is wyd in die sosiale media versprei.

Hendre Papenfus van Centurion, wat ’n staptog deur die land lei teen onder meer plaasaanvalle, sê in ’n videoboodskap dit voel asof niemand kennis neem van wat in die land gebeur nie.

“Hoe lank gaan dit nog vat voordat ons as Suid-Afrikaners in Suid-Afrika almal saamstaan en sê ons is nou moeg daarvoor (moord).”

Papenfus, besturende direkteur en voorsitter van Warriors 4 Christ, en nog twee mans stap sedert 4 September van Musina na Kaapstad om geld in te samel vir weduwees wie se mans vermoor is.

In ’n videoboodskap wat op Papenfus se Facebook-blad gedeel is, vra ’n onbekende man dat die skare wat die Curriebeker-eindstryd Saterdag in Durban bywoon, met die aanvang van die wedstryd opstaan en hulle rug keer na die wedstryd.

“Net een minuut. Dit gaan internasionaal opslae maak en sal die aandag vestig op hierdie probleem in solidariteit met al hierdie boere wat vermoor word. Maar nie net die boere nie - al die misdaad en al die ander mense wat vermoor word,” lui ’n deel van die boodskap.

Nog ’n onbekende man sê dit gaan nie help om in die sosiale media te vra dat almal Maandag swart klere dra ter ondersteuning van boere nie.

“Boys klim in julle bakkies in, julle Cruisers, trekkers, wat ook al julle daar het, kom hierdie kant toe en gaan staan voor die parlementhuis. Blok die paaie af, dán gaan jy aandag begin trek.”

Kyk die video hier.

Joubert Conradie Foto: Verskaf

Op die Facebook-blad RIP JOUBERT CONRADIE het verskeie mense reageer met voorstelle oor hoe bewustheid oor plaasmoorde geskep kan word.

Roleen Beelders stel voor dat boere ’n week lank geen varsprodukte aan markte lewer nie.

“Ek daag (verskeie kettingwinkels), gaan julle saamstaan met jul verskaffers... maak julle deure toe,” lui ’n deel van haar boodskap.

Linda Fochessati sê dat boere hulle huise moet beveilig. “Laat honde binne slaap. Honde wat buite slaap, kan jou nie beskerm nie,” is haar raad.

André le Roux het laat weet dat ’n gebedsbyeenkoms Maandagaand om 20:00 by Proteahoogte gehou word.

Sarel Liebenberg, wat in Amerika bly, sê die boodskap en statistieke oor plaasmoorde moet in Engels versprei word. “Hier is duisende Suid-Afrikaners wat in Amerika en Europa werk... dit is tyd dat ons ons trots sluk en die buiteland vra vir hulp.”

Kyk die video hier.

Meer oor:  Ernie Els  |  Klapmuts-Plaasaanval  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.