Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Eskom-werker en makkers ná spanwerk vas oor veediefstal
’n Werknemer van Eskom is Donderdag aangekeer nadat hy na bewering dragtige ooie op die plaas Schilderspan in die Carnarvon-distrik wou steel. Foto: Verskaf

’n Werknemer van Eskom en twee handlangers is ná die flinke optrede van ’n span plaaswerkers, ’n klompie boere en vier polisiekonstabels in Prieska in aanhouding.

Lt.kol. Dimakatso Mooi, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die drie is in hegtenis geneem nadat hulle met vermoedelik gesteelde skape betrap is.

Die skape is na bewering naby Britstown op die plaas Schilderspan van Donald Jackson gesteel.

Eskom het Saterdag in ’n verklaring bevestig dat een van sy werknemers in verband met ’n klag van veediefstal in hegtenis geneem is en het die voorval ten sterkste veroordeel.

Die verklaring lui dat dié gedrag geheel en al onaanvaarbaar is en dat Eskom die saak deur die regte prosedure en kanale sal hanteer.

Albertus Vermeulen, voorsitter van die Doornfontein-landbouvereniging, sê die vermeende diewe is Donderdag ná ’n enorme spanpoging aangekeer.

Eskom-werker knoop geselsie aan

Hy sê plaaswerkers van Schilderspan het met dragtige ooie in die veld gewerk toe die Eskom-werknemer by hulle stilhou en ’n rukkie gesels.

Hy het daarna glo oor die bult gery en die bakkie dwars in die pad met die agterkant teen ’n draad geparkeer.

Die drie verdagtes het toe na bewering uitgespring en ’n klomp dragtige ooie in ’n hoek van ’n kamp bymekaar gejaag, gevang en begin vasmaak.

Die plaaswerkers, wat na ’n ander kamp op pad was nadat hulle klaar krippe skoongemaak het, het die verdagtes op heterdaad betrap waar hulle glo besig was om die ooie te vang en in die Eskom-bakkie te laai.

Die drie mans het toe glo in die bakkie gespring en weggejaag.

Een van die plaaswerkers het na ’n nabygeleë windpomp gehardloop en na bo geklim om selfoonsein te kry om vir Jackson te ontbied.

Jackson het dadelik die ondervoorsitter van landbouvereniging, Piet Vos, geskakel.

Eskom-bakkie dadelik agtervolg

Vos het onmiddellik gereageer en die Eskom-bakkie agtervolg. Vermeulen sê in daardie stadium was daar net ’n vae stofspoor in die lug wat Vos kon volg.

Terwyl Vos die spoor gevolg het, het hy boere in die omgewing oor die radio ontbied wat weer vir Vermeulen in kennis gestel het. Vermeulen het die Prieska-plaasveiligheidsektore geaktiveer.

Vermeulen sê 20 boere uit die distrik het onmiddellik gereageer en al die ingangs- en uitgangsroetes in die gebied afgesper.

Ná ’n wilde jaagtog deur die veld is die Eskom-bakkie uiteindelik op die Carnarvon-pad voorgekeer.

Vermeulen en konstabels Arno Mouers, Jodine Visagie, Landiswa Nel en Nolene Sideko het kort daarna by die toneel opgedaag.

Vermeulen sê dié polisiespan het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en ’n plofbare situasie gou onder beheer gebring. Vermeulen sê hy was beïndruk met hoe deeglik hulle hul ondersoek gedoen het en hoe professioneel hulle die saak hanteer het.

Die verdagtes sal op aanklag van veediefstal in die hof in Britstown verskyn.

Eskom vra dat enige verdagte gedrag van sy werknemers by 0800 11 27 22 aangemeld word.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.