Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hartswater: 5 vas ná grumoorde

Die Brand-gesin se Sondag-middagete het onaangeraak op die tafel bly staan toe hulle van hul hoewe buite Hartswater ontvoer en later vermoor is.

Danie (83) en Breggie Brand (73) en hul dogter Elzabie Brand (54) is Sondagmiddag in die huis aangeval.

Hartswater is in die Noord-Kaap, digby die grens met Noordwes.

Elzabie het voorheen in Gauteng gewoon en was in 2013 en 2014 ’n advertensiekonsultant by Beeld in Pretoria.

Die bejaarde egpaar sou binnekort Kaapstad toe verhuis het.

“Hulle het nie eens kans gehad om hul middagete te eet nie,” sê hul skoonseun Wikus Taljaard van Brackenfell in Kaapstad.

Taljaard sê hy en sy vrou, Heidie – die Brand-egpaar se jongste dogter – het Sondagmiddag met haar ouers en suster oor die telefoon gepraat.

hartswater
Geel polisielint buite die Brand-egpaar se huis. Foto: Anena Burger

“Alles was oukei. Hulle het gelag, gesels en grappies gemaak. Dit was net ná 12:00.

“Die aanval moes net daarna gebeur het, want hulle het nie die kos geëet nie,” sê hy.

“My vrou praat elke dag met haar ouers en toe ons hulle Maandag glad nie in die hande kry nie, het ons onraad vermoed.”

Familievriende het gaan ondersoek instel. ’n Grootskaalse soektog is die middag begin nadat die vriende op die verlate huis afgekom het.

Die huis was vreeslik deurmekaar en daar was tekens van ’n struweling, asook bloed en sleepmerke.

Kort nadat die soektog begin is, is die egpaar se Nissan Micra in die Takaneng-nedersetting naby Taung opgespoor.

Taung is sowat 30 km van Hartswater af.

Elzabie se motor, ’n grys Mazda CX-5, is Maandag omstreeks 23:00 op die N18 net duskant Pudimoe voorgekeer. Die pad loop tussen Hartswater en Vryburg.

Die polisie het die 42-jarige vrou wat die motor bestuur het en twee passasiers, mans van onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, in hegtenis geneem.

’n Vierde verdagte, ’n 20-jarige man, is Dinsdagoggend aangekeer en ’n vyfde, ’n 36-jarige man, Dinsdagmiddag.

Die eerste drie verdagtes het blykbaar aan die polisie gewys waar Elzabie se lyk versteek is. Sy is omstreeks 01:00 Dinsdagoggend gevind.

hartswater

Taljaard sê sy het steekwonde gehad en beserings aan haar kop en gesig.

Na verneem word het die verdagtes ook aangedui dat die egpaar se lyke verder in dieselfde gebied agter ’n bos met takke toegepak is. Hulle is Dinsdag omstreeks 17:00 gevind, nie ver van waar Elzabie se lyk gelê het nie.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die lyke is in die bosse buite Takaneng gevind. Dit is sowat 15 km van die Brands se kleinhoewe.

Die hoewe was Dinsdag verlate, en ’n skelgeel polisielint het die ingang versper.

Die huis is nie omhein nie, maar het swaar diefwering voor die vensters.

Taljaard sê hulle vermoed nou sy skoonouers se hondjie, ’n miniatuur-pinscher wat ’n week voor die aanval dood is, is vergiftig.

Elzabie, Breggie en Danie Brand. Foto: Verskaf

“My skoonpa het gedink ’n slang het hom gepik, maar dalk was dit ’n manier om van hom ontslae te raak.”

Hy sê sy vrou kry baie swaar. “Haar hele lewe het binne ’n kwessie van ’n paar sekondes heeltemal verander. Sy het hulle elke dag gebel, gehoor of dinge reg is. Dit gaan ’n swaar tyd wees.”

Taljaard sê hulle was reeds besig met die reëlings om sy skoon­ouers Kaapstad toe te laat trek.

Volgens hom het Elzabie, ’n grafiese ontwerper, sowat ’n jaar gelede ná haar egskeiding by haar ouers in Hartswater gaan woon.

’n Voormalige kollega wat vroeër saam met Brand gewerk het, maar anoniem wou bly, sê haar kollegas sal haar onthou as ’n opgewekte mens wat goed met kliënte kon werk.

“Sy was net ’n lekker mens en baie vriendelik. Wat met haar gebeur het, is skokkend. Dit maak ’n mens siek.”

Elzabie word ook oorleef deur nog ’n suster, Trudie de Beer van Potchefstroom.

Hul broer, Danie jr., is ’n paar jaar gelede in ’n motorongeluk dood.

“Sy het ’n goeie hart gehad en dinge op haar manier gedoen,” sê Taljaard oor sy skoonsuster.

“Sy, haar ouers en susters was baie na aan mekaar.” Anena Burger, Ané van Zyl, Susan Cilliers 

Meer oor:  Breggie Brand  |  Danie Brand  |  Hartswater-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.