Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie eis groot skadevergoeding nadat wag sterf

Die familie van ’n veiligheidswag wat doodgeskiet is terwyl hy ’n inbreker vasgetrek het, eis miljoene rande se skadevergoeding van die sakeman op wie se perseel dit gebeur het.

Chantelle en Clinton Warnock op hul troudag. Foto: Facebook

Hulle sê die sakeman, Manuel de Jesus da Silva Guimaraes, het Clinton Warnock (37) doodgeskiet toe hy in die harwar sy vuurwapen probeer laai of oorhaal het. Maar Guimaraes, wat nie vervolg is weens Warnock se skietdood nie, ontken dat hy die noodlottige skoot by sy onderneming, American Products Services in Boksburg, afgevuur het.

Warnock se weduwee, Chantelle Warnock (27), van Edenvale, eis R2,2 miljoen van Guimaraes in die hooggeregshof in Pretoria. Ook Clinton se 16-jarige dogter, Christen Warnock, en haar ma, Maya Turnbull, eis R1,2 miljoen van die sakeman. Christen en Turnbull is van Noord-York­shire, Engeland.

Maar Guimaraes sê in hofstukke die eise is kwaadwillig en die bewerings teen hom ongegrond.

Chantelle en Clinton Warnock was net meer as ’n jaar getroud toe hy dood is. Turnbull het in 2010 Brittanje toe getrek met haar dogter nadat sy en Warnock uitmekaar is.

Chantelle sê in hofstukke sy en Clinton het albei vir AAA Alarms gewerk toe ’n alarm die nag van 16 Oktober 2016 by Guimaraes se onderneming afgaan. Een van hul vier veiligheidsbeamptes, Zwelethemba Mthini, is soontoe. Mthini het gesien dit was moontlik ’n inbraak, en sy het Clinton gestuur om hom te gaan help. “Ek het die voorval by (Guimaraes) aangemeld,” sê Chantelle.

Sy sê volgens getuies het Clinton ’n verdagte op die grond vasgedruk om sy hande met kabelbinders vas te maak.

Dis toe dat Guimaraes op die toneel kom. Sy beweer in hofstukke Guimaraes het ontsteld geraak “en sy handwapen uitgehaal”. Terwyl hy dit gelaai of oorgehaal het, het ’n skoot afgegaan en Clinton getref.

“Toe dit duidelik word dat die oorledene gewond was, het (Guimaraes) twee keer ‘sorry’ gesê en die toneel verlaat en onderneem om die ambulans te bel,” beweer sy.

Guimaraes ontken dit en het die polisiedossier van destyds, wat lui dat die moordklag teen hom teruggetrek is, by die hof ingedien. Hy sê die vroue probeer hom uitbuit en hulle kan nie bewys dat hy inderdaad vir Clinton geskiet het nie. Die strafsaak teen hom is teruggetrek omdat, volgens Guimaraes, “die staatsaanklaer weet die staat sal nie in staat wees om te bewys dat dit (hy) was wat die oorledene doodgeskiet het nie”.

Sy prokureur sê in hofstukke Chantelle se verhaal is hoorsêgetuienis, want sy was nie op die toneel nie. Sonder die getuienis van enige ooggetuies sal sy nie haar saak kan bewys nie. Die bewerings teen sy kliënt is skandalig, sê die prokureur.

Meer oor:  Veiligheidswag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.