Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie ‘in die donker’ oor vrou se dood by vakansieoord

Die familie van ’n geliefde roofdierkenner van Limpopo gaan ’n private lykskouing laat doen ná haar skielike dood waar sy met vakansie in KwaZulu-Natal was.

Annel Snyman (38) van die Loebies Roofdierpark buite Bela-Bela (Warmbad) se familie is geskok nadat sy glo haar eie lewe geneem het deur haar met rekverbande aan ’n badkamerdeur se haak by ’n vakansieoord op te hang.

Antoinette Snyman, haar ma, sê sy soek duidelikheid oor haar dogter se dood en sy “kan nie glo sy het selfmoord gepleeg nie”.

Annel Snyman (38) by een van haar leeus by die Loebies Roofdierpark buite Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo. Foto: Facebook/Loebies Predatorpark

Volgens haar het haar dogter die afgelope 12 jaar aan die outo-immuunsiekte lupus gely, “maar sy het die siekte goed hanteer en was nie depressief nie”.

Annel en Chris Luus, haar vriend van die afgelope twee jaar, het op 8 September na die Cayley Mountain Resort in die Drakensberg in KwaZulu-Natal gegaan vir ’n kort vakansie. Luus is ’n sakeman van Bela-Bela.

Volgens Antoinette sou hulle tot 13 September daar bly, maar Annel het Maandag omstreeks 21:30 vir haar in ’n WhatsApp-boodskap gesê “ons kom vroeër terug”.

“Ek het geantwoord 'oukei' en dat sy lekker moet slaap. Die volgende oggend word ek gebel en hoor my kind is dood,” sê Antoinette.

Luus het Maandag omstreeks 23:00 op haar lyk afgekom waar sy aan die voorkant van die badkamerdeur in hul wooneenheid in die oord gehang het. Hy sê die rekverband was aan die agterkant van die deur aan die haak vasgemaak (en toe oor die deur vorentoe gevat en om haar nek gewees).

Volgens hom het hy in ’n hangmat by die swembad gelê en vir Annel gewag om haar by hom aan te sluit om na die sterre te kyk. Hy het bekommerd geraak toe sy na ’n wyle nie opdaag nie, “en toe het ek huistoe (sic) gegaan en haar lyfie teen die deur gesien!”

“Ek was histeries van skok en kan nie dit wat ek gesien het uit my gedagtes kry nie. Dit was baie traumaties om haar daar te sien hang,” het ’n geskokte Luus Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Hy sê hy het die rekverband afgesny en Annel op die bed laat lê waar hy mond-tot-mond-asemhaling op haar toegepas het, maar tevergeefs.

Chris Luus en Annel Snyman.

Annel het die rekverbande gebruik vir ’n wond aan haar regterarm waar ’n hiëna haar sowat ’n maand gelede gebyt het.

Die polisie is ontbied en het ’n verklaring by Luus afgeneem.

Antoinette sê Luus het haar eers die Dinsdag om 06:40 gebel en gesê haar dogter is die vorige aand dood.

Annel Snyman by een van haar geliefde leeus by die Loebies Roofdierpark buite Bela-Bela in Limpopo. Foto: Facebook/Loebies Predator Park

Luus sê hy “was buite homself” en erg geskok nadat hy op Annel afgekom het. “Ek het haar bitter lief gehad. Ek het daardie nag gehuil en gebid, gehuil en gebid.”

Hy ontvang sielkundige berading. “Sy het haar seer diep weggesteek en altyd ’n glimlag op haar gesig gehad,” sê Luus.

Nardus Snyman, Annel se broer, sê “die familie is in die donker en verward” oor haar dood. “Die boodskap wat ons gekry het is ‘selfmoord’.

“Daar is ’n ondersoek aan die gang, maar die inligting is sensitief en beperk.”

Kol. Thulane Zwane, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê die polisie in Winterton doen ’n geregtelike doodsondersoek. ’n Lykskouing sal gedoen word en die uitslag sal deel van die geregtelike ondersoek uitmaak, “maar die ondersoek is nog nie afgehandel nie”.

Honderde boodskappe van medelye oor Annel se dood stroom in op Facebook, selfs sover as van Amerika en Engeland van mense wat haar by die Loebies-roofdierpark ontmoet het.

Marilyn Michaels skryf op Facebook, “my sielsuster, jy sal gemis word. Jy het ’n huppel in die stap gehad, ’n vonkel in jou oog. Die wêreld was ’n beter plek met jou daarin en daar is ’n reusegat in my hart.”

Lita Cilliers sê “te vroeg is jy van ons weggeruk. Jy het jou droom gelewe, elke dag met soveel liefde vir jou diere kinders en almal om jou. Jy was ’n inspirerende vrou vir so baie van ons, soveel deernis en uithouvermoë.”

’n Roudiens word Woensdag om 11:00 uit die Hervormde kerk in Bela-Bela vir Annel gehou. Sy sal later veras word.

Annel Snyman by ‘n bruin hiëna by die Loebies Roofdierpark buite Bela-Bela in Limpopo. Foto: Facebook/Loebies Predator Park
Annel Snyman en Chris Luus, haar vriend van die afgelope twee jaar.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.