Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie is ‘stukkend’ ná Isabel van Coller se dood

Sy het 11 jaar lank dieselfde roete saam met haar ma gery waar sy Vrydag gekaap en geskiet is, sê die vermoorde Isabel van Coller (56) se dogter, Tania Kopke.

“Ek kan dit nie verstaan nie. Sy het nooit by daardie verkeerslig gestop nie,” sê ’n emosionele Kopke.

“Ek wil net weet hoekom? Hoekom kon hulle haar nie net uit die kar haal nie? Hoekom ’n lewe vat vir ’n selfoon en ’n handsak?” sê Kopke.

Tania Kopke, die dogter van die vermoorde Isabel van Coller, sê sy het elke oggend haar ma van die werk af gebel en dat daar vir altyd ’n leemte sal wees. Foto: Felix Dlangamandla

Sy het Maandag in ’n onderhoud saam met haar broer Arno van Coller en pa, Iggie, aan Netwerk24 gesê haar ma was die gom wat hul familie bymekaar gehou het.

Isabel, ’n ouma van drie kleinkinders, is Vrydag omstreeks 05:24 deur vermeende rowers op die hoek van Cunning- en Dublinstraat in Bramley, Johannesburg, in haar motor oorval.

Binne slegs 36 sekondes is sy doodgeskiet en haar lyk uit haar motor geslinger. Die vermeende diewe is met haar motor weg, maar dit is ’n paar blokke van die toneel gevind.

’n Video van die gebeure is wyd op sosiale media gedeel en het tot in Pole opslae gemaak toe die tydskrif Najwyzszy Czas! daaroor berig het.

“Dit voel onwerklik. Ek en my pa sê netnou vir mekaar dit voel of sy nou-nou gaan inry en sê dit was net ’n grap,” sê Kopke terwyl sy vir Iggie kyk.

Arno van Coller sê hy gaan sy ma, Isabel, se malvapoeding die meeste mis. Hy kommunikeer voortdurend met die polisie en glo reg sal geskied ná sy ma se moord. Foto: Felix Dlangamandla
Iggie van Coller sê sy wêreld het Vrydag in duie gestort toe sy vrou van 36 jaar, Isabel, vermoor is. Hulle was baie lief vir die Krugerwildtuin en het graag saam met hul drie kleinkinders vakansie gehou. Foto: Felix Dlangamandla

Isabel en Iggie het by Kopke en haar gesin in Springs gewoon.

Iggie se oë is vol trane wanneer hy van sy vrou van 36 jaar praat.

“Soos enige ander oggend het ons om 04:00 opgestaan, 05:00 het ek vir haar koebaai gesê, en dit was die laaste.”

Isabel het as boekhouer by Emer-G-Med gewerk en het elke oggend vroeg gery om die verkeer te vermy.

Iggie meen sy vrou was “beneuk, maar met ’n goeie hart”.

Kopke en Arno stem saam en sê hul ma kon altyd die beste raad gee.

Isabel se tweelingsuster, Harriet Ackermann, sê die gebeure voel vir haar onwerklik.

“Ek sit en wonder vandag wat ek nou is? Is ek nog deel van ’n tweeling of is ek nou ’n eenling,” sê Ackermann.

Hulle het ook ’n broer en suster.

Ses mans is wel Vrydagaand in hegtenis geneem, hoewel hulle in dié stadium nog nie by die moord betrek kan word nie. Hulle het Maandag op aanklagte van roof in die landdroshof in Alexandra verskyn.

Die polisie wag nog op DNS-uitslae. Vingerafdrukke is ook geneem.

Tania Kopke, Iggie van Coller en Arno van Coller sê die moord voel steeds onwerklik. Foto: Felix Dlangamandla

Isabel se familie sê die polisie het bloedspatsels in die motor gevind, maar daar moet nog bepaal word of dit net aan haar of aan van die rowers behoort.

Dis nog onseker of die vermeende skieter onder die verdagtes is wat Maandag in die hof verskyn het.

Die mans verskyn weer op 25 November in die hof vir ’n borgtogaansoek.

Hoewel Arno sê hy sal die hofverrigtinge bywoon, sê Kopke en Iggie hulle wil eerder wegbly.

“Niks gaan haar terugbring nie, maar ons hoop net dat reg sal geskied sodat dit nie ook met ander soos sy sal gebeur nie,” sê Kopke.

Iggie stem saam. “Hulle is barbare en het geen gevoel vir mense nie. Sy gaan gemis word.”

Tania Kopke, Iggie van Coller en Arno van Coller is oorweldig met die ondersteuning wat hulle sedert hul vrou en ma, Isabel, se dood ontvang het. Foto: Felix Dlangamandla
Meer oor:  Isabel Van Coller  |  Bramley  |  Johannesburg  |  Dood  |  Misdaad  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.