Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie leef in vrees ná dogter geskiet is

“Ons lewe in vrees. Ek weet nie wanneer hulle op my of my kinders sal skiet nie.”

So sê Yassiem Newman, pa van Sadiqah (26), die swanger vrou wat verlede Donderdag in Manenberg op die Kaapse Vlakte doodgeskiet is.

Sadiqah was Donderdagaand saam met haar 29-jarige vriend op pad om elektrisiteit te gaan koop toe daar op hulle geskiet is, sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder.

Sadiqah Newman (26), wat Donderdagaand in die kop geskiet is.

Sadiqah het etlike skietwonde opgedoen en is op die toneel dood. Sy was agt maande swanger. Haar vriend is in die been gewond.

Volgens Newman was hy in die huis toe die skote geskiet is.

“Ek het opgespring en aan my kind gedink. Ek het geweet sy is buite. Ná die tweede skoot, toe hoor ek hoe hulle aanhoudend skiet. Ek kon nie tel hoeveel skote geskiet is nie.”

Newman het onmiddellik uitgehardloop en sy gewonde dogter aangetref. Haar vriend het in die pad met ’n beenwond gelê.

“Toe ek op die toneel aankom, het sy nog gelewe. Maar sy kon nie praat nie omdat sy in die kop geskiet is. Ek was soos ’n mal mens. Daai was my dogter, man. Ons het ’n spesiale band gehad.”

Hy het Dinsdagoggend die trane weggesluk terwyl hy vertel wat gebeur het.

“Daar waar sy gelê het, het sy gesterwe.”

Die vriend het op die toneel gesê wie op hulle geskiet het.

Die motief vir die skietery is egter nog onduidelik.

Newman se vrou, Nadeema, het Dinsdagoggend gesê sy kan nie lank gesels nie omdat sy op pad lykhuis toe is. Sy moes haar dogter se klere gaan haal.

“Dit gaan moeilik met ons. Die kinders is nie vandag skool toe nie,” sê sy.

Sadiqah het ’n seun (8) en ’n dogter (6). Hulle is nou in hul grootouers se sorg.

“Ek het haar seuntjie saamgeneem na die graf toe en vir hom verduidelik waarom ons sy ma in die grond sit. Die kinders voel ook nog seer,” sê Newman.

Sadiqah is Saterdag volgens die Moslem-geloof begrawe.

Haar man, wat in die Noord-Kaap werk, het haar begrafnis bygewoon, maar hy moes intussen weer teruggaan.

Newman sê hy kan net goed praat van sy dogter.

“Sy was ’n lieflike kind. Sy sou nooit vir my ’n verkeerde antwoord gegee het nie.”

Die beskuldigdes, Grant Arendse, Dahniero van Rooyen, Romando Swartz en ’n vrou, Phutuma Mntunjani, het Maandag in die landdroshof in Athlone op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn. Hulle is glo lede van die Dixie Boys-bende.

Hulle bly in aanhouding en sal Maandag 19 Augustus weer in die hof verskyn. Hulle sal dan om borgtog kan aansoek doen.

“Hulle moet daar bly. Hulle moenie eens borgtog kry nie. Ek weet hulle gaan my familie pla. Hulle weet dit is my dogter,” sê Newman.

Volgens hom het een van die beskuldigdes se ma en suster Dinsdagoggend met sy ander dogter, Yusurah (30), gestry. Die suster wou glo ook met Yusurah baklei.

Meer oor:  Manenberg  |  Kaapse Vlakte  |  Misdaad  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.