Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Giles-moorde: Beloning van R100 000 uitgeloof

Die familie van die vermoorde Wayne Giles bied ’n beloning van R100 000 aan vir enige inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die moordenaars wat hom en sy vrou meer as twee maande gelede in hul huis doodgeskiet het.

Die egpaar is op 4 Augustus in hul dubbelverdiepinghuis in die Fly Inn Estate in Elandsfontein, oos van Pretoria, aangeval in wat polisiebronne glo dalk ’n huurmoord kon wees.

Dit is egter onbekend of Giles (57) en sy vrou, Janique (56), die eintlike teikens was.

Giles is op die dag net ná 05:30 in die sitkamer van hul huis doodgeskiet. Janique is aan die bokant van die trappe geskiet.

Die egpaar se dogter, Rachel (24), is in haar bobeen geskiet en moes verskeie operasies ondergaan.

Sy is vermoedelik gewond toe sy op haar ma se gille reageer en uit haar kamer, ook op die boonste verdieping, gekom het.

Die gesin se seun, Brandon (28), is ongedeerd en kon hulp ontbied.

Janique en Wayne Giles. Foto: Argief

Wendy Nagelsen, een van Giles se susters, het Dinsdag gesê dit gaan onder die omstandighede nou beter met die kinders.

Rachel is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk aan by familievriende “wat baie mooi vir haar sorg”.

Nagelsen sê dat Wayne se familie, wat nog ’n suster en broer insluit, besluit het om die beloning aan te bied om dalk te help met die ondersoek.

“Ons soek antwoorde wat sal lei tot ’n suksesvolle vervolging in die hof. Ons ma is 83 jaar oud en sy kry emosioneel bitter swaar,” sê sy.

Polisiebronne het dit kort ná die moord duidelik gemaak dat nie een van die twee kinders in dié stadium ondersoek word nie.

“Brandon is reeds daardie Dinsdag (van die moorde) lank ondervra en onderhoude is ook met ander mense, insluitende familievriende, gevoer,” het verskeie bronne gesê.

Die saak is intussen oorgeneem deur die polisie se provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad.

Een vermoede is dat die moorde dalk iets met Giles se werk as bekende ingenieur wat yskaste vir nywerhede vervaardig, te make kon gehad het.

Janique het die “kantoordeel” van Wayne se verkoelingsonderneming behartig soos die boekhouding en betalings.

Die aanvallers het destyds vermoedelik toegang tot die landgoed verkry deur die ketting en slot aan ’n ongebruikte hek af te knip.

Hulle het verby minstens vyf luukse huise direk na die Giles-huis gegaan.

Die moordenaars het Giles se horlosie en beursie by hom gelos. Ander juweliersware, insluitende sy duur horlosieversameling, sowel as vuurwapens, is ook nie geroof nie.

Dit blyk ook dat net sekere skootrekenaars uit die huis geneem is.

• Enigeen met inligting oor die moorde kan kapt. Ben Booysen op 082 447 4963 bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Meer oor:  Elandsfontein  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.