Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie pleit vir inligting oor moord op skoolhoof

Die familie van die vermoorde Grabouwse skoolhoof Zameka Mfubesi sê hulle moet ter wille van hul gemoedsrus weet wat met haar gebeur het.

Die 46-jarige Mfubesi, skoolhoof van die Umyezo Wama Apile High School, het op 18 September gesterf toe daar op die N2 op haar voertuig losgebrand is.

“Ons wil graag die donker hoofstuk in ons lewe afsluit, maar ons kan nie totdat ons weet hoekom sy vermoor is nie,” sê haar broer, Loyiso Mfubesi.

Volgens hom is die familie tans in die Oos-Kaap vir Mfubesi se begrafnis wat Saterdag op haar tuisdorp in Nqamakwe gehou word.

Zameka Mfubesi (46), skoolhoof van die Umyezo Wama Apile High School in Grabouw, is op 18 September op die N2 buite die dorp doodgeskiet. Foto: Anette Theron/Gazette

Hy het die inwoners van Grabouw aangemoedig om inligting aan die polisie te gee sodat die moordenaars vasgetrek kan word.

“Ons weet nie wie haar vermoor het en hoekom hulle dit gedoen het nie, maar ons sal nie rus voordat hulle toegesluit is nie.”

Intussen het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en die familie saam ’n beloning van R30 000 aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die moordenaar(s) sal lei.

“As u die verdagtes ken of gesien het wat Zameka Mfubesi op 18 September omstreeks 14:00 by die Grabouw-afrit op die N2 geskiet het, kontak asseblief dadelik die Wes-Kaapse provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad op 10111,” lui Debbie Schäfer, die LUR van onderwys, se pleidooi in ’n verklaring.

Schäfer en die WKOD het ooreengekom om R20 000 tot die beloning by te dra, terwyl Mfubesi se familie die res van die beloning sal verskaf.

“Mfubesi se dood was ’n groot skok en dit is ’n groot verlies vir haar gesin, die skoolgemeenskap en die WKOD. Lede van die publiek word versoek om na vore te kom om die skuldiges voor die gereg te daag.”

Die WKOD sê alle inligting sal as vertroulik gehanteer word.

Die beloning sal slegs betaal word vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die oortreder(s) lei, en sal gedeel word as meer as een persoon tersaaklike inligting verskaf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.