Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie van Koevoet-man geskok én verlig

’n Mengelmoes emosies van skok en verligting.

Dit is waardeur Chris Barnard, oud-Koevoetlid, se familie gegaan het toe die polisie hulle Dinsdag net ná 15:00 laat weet: Hulle het goeie rede om te glo dat ’n lyk wat in ’n veld in Wallmansthal, noord van Pretoria, gevind is, dié van die vermiste Barnard is.

De Wet van Wyk, Barnard se swaer, sê hulle het uiteindelik ’n antwoord oor wat van hom geword het.

Chris BarnardFoto: Verskaf

Maar daar is ook die werklikheid van ’n pa en ma wat ingelig moes word dat hul seun se oorskot vermoedelik gevind is.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die Sinoville-polisiekantoor, sê ’n lid van die publiek het Dinsdagoggend die polisie se 10111-nommer geskakel nadat hy op iets – vermoedelik ’n erg ontbinde lyk – toegedraai in ’n duvet in die veld afgekom het.

Lede van die Sinoville-polisiekantoor op die toneel waar die oorskot gevind is wat vermoedelik dié van die oud-Koevoetlid Chris Barnard is.Foto: Verskaf

Dié boodskap is oor die polisieradio uitgestuur en sers. Piet Ferreira, ’n lid van die ondersoekspan, het soontoe gery.

Die beller het die polisie dieper in die afgeleë veld ingelei.

Agter ’n boom was ’n duvet met oorskot daarin toegedraai.

Die duvet, hoewel erg verweer, is soortgelyk aan een wat destyds saam met ander huisraad uit die woning waar Barnard tuisgegaan het, verdwyn het.

Daar was ook sekere kenmerke aan die lyk waaraan Ferreira dit met redelike sekerheid as dié van Barnard kon eien.

“Die sersant het die res van die span, forensiese deskundiges en alle ander nodige eenhede ontbied.

Lede van die Sinoville-polisie handel die laaste papierwerk af nadat die oorskot van ’n man wat in die veld gevind is na die lykshuis geneem is. Foto: Verskaf

“Ons is 90% seker dat dit mnr. Barnard se oorskot is, maar sal dit bevestig met behulp van tandheelkundige rekords. Daar was geen ooglopende merke aan die lyk om daar op die toneel te kon bepaal wat die oorsaak van sy dood is nie, maar ’n lykskouing sal gedoen word,” sê Van Dyk.

Barnard se familie sê ten minste het hulle iets om te begrawe, ’n manier om afsluiting te probeer kry.

“Jenny, Barnard se suster, het kort nadat die polisie gebel het sy ouers en ander suster laat weet.

“Chris was die jongste, die kleinboet. Sy ma is 84. Sy pa, self ’n oudpolisieman, verjaar Vrydag. Hy word 86. Dit is die dag waarop Chris twee maande gelede verdwyn het,” sê Van Wyk.

Dan voeg hy by dat hierdie uiteindelike deurbraak te danke is aan lt.kol. Alet Pratt en die ondersoekspan, sowel as die private spesialisondersoekmaatskappy Nolisat, wat saam met die familie geweier het om tou op te gooi.

Die polisie en maatskappy het destyds betrokke geraak toe Barnard se familie onraad vermoed het, nadat hulle “vreemde” boodskappe van sy foon af gekry het.

Van Wyk het destyds vertel dat Barnard, wat vir ’n Amerikaanse maatskappy in Irak werk, op 1 Desember in Suid-Afrika aangekom het vir vakansie.

Hy sou soos gewoonlik in Van Wyk-hulle se huis in Annlin, Pretoria, tuisgaan.

Terwyl die Van Wyks op vakansie was, het Barnard ’n vrou, wat hom vroeër op Facebook bevriend het, op 5 Desember in Vanderbijlpark gaan haal om te kom kuier.

Die laaste keer wat die familie met sekerheid kan sê hulle met Barnard self gekommunikeer het, was op 6 Desember.

Die familie het later hul huis geplunder gevind.

Van Wyk het Barnard by die Sinoville-polisie as vermis aangemeld en ’n saak van huisbraak en diefstal aanhangig gemaak.

Op 24 Desember is Corné de Beer (33) van Sasolburg en Richardt “Jagter” Botha (35) van Vanderbijlpark vasgetrek.

Wayne van der Walt (35) van Vereeniging is op 30 Desember aangekeer.

Barnard se foon, voertuig, bankbesonderhede en die gesteelde huisware is glo in hul besit gekry.

Hulle is aangekla van huisbraak met die opset om te steel en van diefstal, sowel as die diefstal van Barnard se voertuig.

Kort daarna is nog ’n aanklag bygevoeg: moord, hoewel daar in daardie stadium nog geen spoor van Barnard was nie en die verdagtes geswyg het.

Meer oor:  Chris Barnard  |  Inhegtegisname  |  Lyk  |  Gevind  |  Vermis  |  Oud-Koevoetlid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.