Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familielid en vriend vas ná moord op Kaapse vrou

’n Familielid van ’n vrou wat vir die Kaapstad-metro gewerk het, sal Dinsdag in die landdroshof in Bellville op ’n aanklag van moord verskyn.

Die man en ’n vriend is Sondag ná speurwerk van speurders verbonde aan die Bellville-polisiekantoor in verband met die moord op Natasjia Geldenhuys (44) in hegtenis geneem.

Bronne het Maandag gesê Geldenhuys se 20-jarige seun het Sondag kort ná 06:00 in haar slaapkamer in hul huis in Eerste Laan, Boston, op haar lyk afgekom. Sy het verskeie steekwonde gehad.

’n Polisievoertuig staan Maandag voor die huis in Eerste Laan, Boston, in Bellville, waar Natasjia Geldenhuys se lyk Sondagoggend met veelvoudige steekwonde gevind is. Foto: Jaco Marais

Die seun het glo by vriende in Vierde Laan gekuier en het Sondag omstreeks 06:00 huis toe gekom.

Volgens inligting het sy jonger boetie wat by die huis was, die deur vir hom oopgemaak nadat hy geklop het. Die boetie is glo terug na sy kamer waar hy verder gaan slaap het.

Die ouer seun het toe glo op sy ma se lyk in haar slaapkamer afgekom en die polisie ontbied.

Volgens ’n ander bron is Geldenhuys se beursie oop langs haar gevind. Van die klerekaste se laaie en deure was oop asof mense daarin gekrap het. Daar was egter geen teken van gedwonge toegang nie.

Die bron het ook gesê polisielede verbonde aan die polisie se forensiese afdeling sal Maandag na die huis terugkeer om verder na leidrade te soek.

Natasjia Geldenhuys is vermoedelik Saterdagaand laat of vroeg Sondagoggend vermoor. Foto: Facebook

Geldenhuys se man, Andre, was volgens die bron uitstedig vir sake. Die tweede man wat in hegtenis geneem is, woon glo in Vierde Laan, Boston.

Geldenhuys werk volgens haar Facebook-blad by die Kaapstad-metro se departement van beplanning en bou-ontwikkeling.

Sy het ook vir LitNet geskryf en het in 2019 haar MA-graad in taalkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf.

’n Vriendin van Geldenhuys het Maandagoggend verstom gereageer toe sy van haar dood hoor. Sy het gesê dit is vir haar so onwerklik. “Ek het gehoor daar is iemand in Eerste Laan vermoor, maar het nie geweet dis Natasjia nie.”

Die vriendin, wat gevra het dat haar naam nie genoem word nie, het Geldenhuys as ’n vriendelike, lieflike vrou beskryf. “Haar lewe het om haar man en seuns gedraai. Hulle was baie na aan mekaar,” het die vriendin gesê.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die moord bevestig. Hy het gesê uitstekende speurwerk deur Bellville-speurders het Sondag tot die inhegtenisneming van die twee mans gelei.

Hulle sal Dinsdag op ’n voorlopige aanklag van moord in die landdroshof in Bellville verskyn.

Die huis in Eerste Laan, Boston, waar Natasjia Geldenhuys se lyk Sondagoggend gevind is, was Maandag nog met geel polisielinte afgekordon. Foto: Jaco Marais
Die vooraansig van die huis in Eerste Laan, Boston, waar die 44-jarige Natasjia Geldenhuys die naweek vermoor is. Foto: Jaco Marais
’n Troosbrief en blomme wat iemand by die posbus van Natasjia Geldenhuys gelos het. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Natasjia Geldenhuys  |  Bellville  |  Kaapstad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.