’n Familielid van die vermoorde taxibaas van Fichardtpark in Bloemfontein is Dinsdagaand in verband met sy moord in hegtenis geneem.
Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdagoggend bevestig ’n familielid is in hegtenis geneem vir die moord op Ntau Lucas Mokoena (51), ’n sakeman en taxibaas.

Ntau Lucas Mokoena (51), ’n taxibaas van Fichardtpark, Bloemfontein, is Maandagaand in sy huis doodgeskiet. Foto: Facebook
Die vrou, wie se identiteit nog nie bekend gemaak kan word nie alvorens sy in die hof verskyn het, sal binnekort na verwagting op ’n aanklag van sameswering om moord te pleeg in die hof verskyn.
Volgens Mbambo gaan die polisie moontlik binnekort nog inhegtenisnemings doen.
Mokoena is Maandagaand omstreeks 21:35 deur twee gewapende mans oorval kort nadat hy by sy huis in Schnehagesingel aangekom het.

Ntau Lucas Mokoena (51) se huis in Schnehagesingel, Fichardtpark, Bloemfontein, waar hy Maandagaand doodgeskiet is. Foto: André Damons
Die mans, wat na bewering Zoeloe gepraat het, het glo vir hom in die badkamer gewag.
Netwerk24 het vroeër verneem Mokoena se vrou het al geslaap, maar het wakker geword van die stryery tussen haar man en die aanvallers.
Mokoena is uit die badkamer na die slaapkamer gesleep waar hy en sy vrou met dasse vasgebind is. Die mans het geld geëis voordat hulle hom voor sy vrou in die kop geskiet het.
Die aanvallers het meer as R17 000 en drie selfone gebuit voordat hulle in Mokoena se Land Cruiser gevlug het. Die voertuig is later verlate in Lourierpark teruggevind.