Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Swanger vrou wat beroof is, vertel van 'ongekende angs'

Toe ’n rower Vrydag ’n vuurwapen teen haar maag druk en dreig om haar, haar ongebore baba en haar twee vriendinne “sonder enige probleme” te vermoor, het ’n gevoel van ongekende angs oor haar liggaam gespoel.

Leanne Lawson (27), wat swanger is, en haar twee vriendinne Kelly Thompson (27) en Jessica de Villiers (26), is Vrydagoggend omstreeks 07:30 deur drie gewapende mans in Hurlingham, Johannesburg, beroof toe hulle langs ’n rivier gaan stap het.

“My baba is gesond. Ek was by die dokter en alles lyk nog reg. Ek is so dankbaar my kind het niks oorgekom nie,” het Lawson Sondag gesê.

Sy is 22 weke swanger met ’n dogtertjie.

“Ek het nie dadelik besef wat aan die gebeur is nie. Maar toe die rower ’n wapen teen my maag druk en dreig om my, my kind en my vriendinne te vermoor, het ek besef dit is ’n ernstige situasie en die rowers gaan nie net sommer net weggaan nie,” sê Lawson.

Die een rower het ’n vuurwapen gehad, en die ander twee messe.

“Ek het is met die wapen gedreig en Kelly en Jessica met die messe. Voor die aanval het die een met die wapen ’n klapmus gedra, en die ander twee maskers. Ek het nie veel daarvan gemaak nie, want ons leef in ’n pandemie. Maar toe hulle verby ons stap het, hulle ons gegryp en ons besittings geëis,” sê Lawson.

Ek het nie dadelik besef wat aan die gebeur is nie. Maar toe die rower ’n wapen teen my maag druk en dreig om my, my kind en my vriendinne te vermoor, het ek besef hierdie is ’n ernstige situasie en die rowers gaan nie net sommer net weggaan nie.

Tydens ’n struweling om hul selfone, horlosies en juwele te roof, het die einste rower met die vuurwapen Lawson se vinger begin byt om ’n ring wat nie wou loskom nie, af te kry. “Hy wou met alle mag daardie ring hê. Die ring is skaars R10 werd,” sê sy.

Die rowers is daar weg met die selfone, horlosies en ander juweliersware, waaronder Lawson se trouring.

“Toe hulle weg is, het ons begin hardloop. Dit is toe dat die realiteit my getref het. Dit is toe dat ek begin skree en huil het,” vertel sy.

Sy sê sy is steeds geskok en het reeds met ’n sielkundige gaan praat.

Leanne Lawson saam met haar vriendin Kelly Thompson.

Thompson het Sondag gesê kalmte was die sleutel tot hul oorlewing tydens die aanval. “Ek was al in so ’n situasie. Ek het my vriendinne probeer kalm hou. Ek het ook die rower probeer oorreed om die wapen van Leanne se maag af te haal en om haar uit te los. Hy wou met alle mag daardie ring gehad het wat nie wou loskom nie. Ek het toe die ring van haar vinger afgehaal en dit aan hom gegee.”

Sy sê De Villiers vaar onder die omstandighede goed en ontvang berading.

André Snyman, stigter van die misdaadbestrydingsorganisasie eblockwatch, sê die rowers kom vermoedelik van ’n nabygeleë plakkerskamp. “Die gebied is ’n brandpunt,” sê hy.

Volgens hom is meer as 200 mense al in die omgewing in verskeie voorvalle met wapens aangehou en beroof, en voorvalle waar motors se venters stukkend geslaan en items gesteel word, kom ook voor.

Hy sê daar is onder die rowers ook onderlinge struwelinge. In 2020 is die lyk van ’n man in die rivier gekry en daar is onder meer op ’n rots geskryf “gaan terug na Lesotho”.

Snyman sê hy wil misdaad soos dié in die gebied hokslaan en het mense gevra om betrokke te raak by eblockwatch. ’n Ingrypingseenheid van die Fidelity-veiligheidsmaatskappy help hiermee.

Die polisie het nie Sondag op navrae van Netwerk24 reageer nie.

Mense kan eblockwatch hier  volg.


Meer oor:  Johannesburg  |  Swanger Vrou  |  Rower
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.