
Polisiebeamptes op die toneel waar die drie verdagtes Vrydag aangekeer is. Foto: SAPD
Twee vrouespeurders van Sunnyside in Pretoria het Vrydag gewys hulle staan vir geen misdadiger terug nie.
Kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, sê die speurders was Vrydagmiddag omstreeks 13:00 besig met ’n ondersoek in Lyttelton, Centurion, toe hulle sien hoe drie mans ’n selfoon by ’n lid van die publiek gryp en hulle uit die voete maak.
“Die mans het in ’n motor gespring en op die vlug geslaan. Sonder om twee keer te dink het die speurders die mans agternagesit en hulle beveel om stil te hou. Die voortvlugtendes het hulle nie aan die speurders gesteur nie.
“Lede van die polisie in Lyttelton het hulle by die jaagtog aangesluit en die mans op die N1-hoofweg van die pad af gedwing en in hegtenis geneem.
“Drie gesteelde selfone is in hul besit gevind,” sê Miller.
Hy wou nie die identiteit van die speurders bekend maak nie.
“Dit is duidelik dat hul flinke en heldhaftige optrede gelei het tot die inhegtenisneming van die verdagtes. Dit is goed dat geregtigheid geskied, veral in dié tyd van 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders.
“Die verdagtes is in aanhouding en sal Maandag op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, intimidasie en roof in die landdroshof in Pretoria verskyn,” sê Miller.