Die klagte teen 'n pa van Centurion wat vroeër die maand in hegtenis geneem is omdat hy glo die aandklokreël oortree het, is teruggetrek en nie eens op 'n hofrol geplaas nie.
Naas le Roux sou Maandag in die hof moes verskyn nadat twee lede van die Wierdabrug-polisie in Centurion hom in die donker ure van 8 Januarie toegesluit het.

Naas le Roux van Centurion is op 8 Desember in hegtenis geneem toe hy gery het om formulemelk vir sy pasgebore baba te gaan koop. Foto: Deaan Vivier
Hy is in hegtenis geneem hoewel hy vir hulle 'n kwitansie vir die aankoop van babaformulemelk, sowel as die blik melk, gewys het.
LEES OOK: Formulemelk-arres: 'Pa het gronde vir siviele eis'
Adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Maandag op ’n nuuskonferensie aangekondig die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het geweier om met die vervolging voort te gaan nadat die bewyse, wat die polisie glo versuim het om in die dossier aan te teken, voorgelê is.
Lily Rautenbach, Le Roux se prokureur, het ook op die nuuskonferensie bevestig hulle het 'n siviele eis teen die polisie aanhangig gemaak.

Naas le Roux, sy vrou, Natasha, en hul 12 dae oue baba Maandagoggend op 'n nuuskonferensie by AfriForum se kantoor in Centurion. Foto: Deaan Vivier