Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
FOTO’S: Betogers in PE val ambulanse aan

Twee ambulanse en ’n afleweringsbakkie is tydens ’n betoging oor behuising in Booysenspark in Port Elizabeth se noordelike voorstede beskadig.

Petrolbomme is Woensdagaand gebruik om een van die twee ambulanse en die bakkie aan die brand te steek.

’n Massiewe klip is ook deur ’n insleepdienste se vragmotor se voorruit gegooi terwyl hulle die ambulans se wrak langs Stanfordweg probeer wegsleep het.


Die insleepdienste is vermoedelik geteiken aangesien inwoners die wrak vir skrootmetaal gestroop het. Die polisie het spoedig opgetree en die groep mense met rubberkoeëls verjaag, waarna drie verdagtes tussen 20 en 25 jaar vir motordiefstal aangekeer is.


Teen Donderdagoggend het betogers weer verbygaande voertuie met klippe bestook.

’n Totaal van 15 sake van opsetlike saakbeskadiging was tussen Woensdagaand en Donderdagoggend aangemeld deur motoriste wie se motors deur betogers beskadig is.

Inwoners van die Vastrap- informele nedersetting wat die betogings opsweep in die gebied het aan Netwerk24 gesê hulle is moeg vir die regering se leë beloftes, aangesien hulle al tien jaar vir huise wag.

“Ons lê pap nat hier, die hokke (plakkershutte) se dakke lek. Ons slaap onder nat komberse, ons kinders moet met nat skoolklere die oggend wegloop, mense raak siek hier,” sê ’n vrou.

Die wrak van die uitgebrande ambulans het Donderdagoggend nog langs Stanfordweg naby Booysenspark gestaan. Foto: Lulama Zenzile

Een man het voorgeneem dat hulle sal aanhou om die strate in te vaar totdat hulle ’n gewenste antwoord en optrede van hul wyksraadslid kry.

Polisie is op die toneel in Stanfordweg waar die insleepdienste se vragmotor se voorruit deur betogers met klippe stukkend gegooi. Foto: Lulama Zenzile

Vukile Dyele, wyksraadslid, het Donderdag gesê hy het simpatie met die inwoners en ondersteun hul betoging, maar hy ondersteun nie die skade aan infrastruktuur en voertuie nie.

Volgens Dyele word daar reeds sedert 2016 beloftes gemaak aan Vastrap se inwoners om na die nuwe uitbreiding, Jagvlakte, geskuif te word, maar die hervestiging realiseer nie.

“Eerlikwaar, dit is onveilig waar die inwoners nou woon. Daar is los kragdrade op die grond en dit is oral modderig.

Die polisie vergesel een van die drie mans wat Donderdagoggend in hegtenis geneem is na die polisievoertuig. Foto: Lulama Zenzile

“Net verlede jaar het ’n kind in ’n modderpoel verdrink en ’n ander kind doodgebrand. By Jagvlakte is erwe met dienste wat die inwoners kan gebruik.”

Hy wag blykbaar nog net op die munisipaliteit om ondersoek by Jagvlakte in te stel, voor die inwoners geskuif kan word. ’n Opname moet gedoen word om vas te stel hoeveel plotte en watter geriewe beskikbaar is.

“Sodra ’n opname voltooi is, kan die inwoners begin trek.”

Inwoners stroop die wrak van die Isuzu-afleweringsbakkie wat Woensdagaand deur betogers aan die brand gesteek is. Foto: Lulama Zenzile

Hy was egter onseker oor hoe lank dié proses sal neem.

Brig. Tembinkosi Kinana, provinsiale polisiewoordvoerder, het intussen gesê die polisie se eenheid vir openbare orde monitor nog die betogers.

Hy sê in Woensdag se betoging is die eerste ambulans, wat na die Qunu- informele nedersetting ontbied is, omstreeks 19:45 in Stanfordweg geteiken.

’n Petrolbom is deur die ambulans se venster gegooi, waarna die paramedici uit die voertuig gespring het.

’n Tweede ambulans wat onderweg was om sy kollegas in die eerste ambulans te help is met klippe bestook.

Die ambulans wat met ’n petrolbom bestook is, het heeltemal uitgebrand. Foto: Verskaf

Dié ambulans is beskadig, maar niemand is beseer nie.

Kort hierna het dieselfde groep betogers ’n Isuzu-afleweringsbakkie, wat gebruik is om werkers huis toe te neem, in William Slammert-rylaan voorgekeer.

Die insittendes van die bakkie het gevlug terwyl klippe na die bakkie geslinger is.

Kinana sê betogers het daarna in die bakkie weggery en dit later aan die brand gesteek.

Volgens Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die gesondheidsdepartement in die Oos-Kaap, beloop die skade aan ’n ambulans, met toerusting, sowat R1,3 miljoen.

Hy het Woensdagaand se optrede as barbaars en vernietigend bestempel, asook die polisie gevra om beslissend op te tree.

“Ware bekommernisse van die gemeenskap moet aangespreek word, maar geweld word nie geregverdig nie,” sê Kupelo.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Betogers  |  Ambulanse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.