Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
FOTO'S: Hier is Amy’Leigh glo vir 18 uur aangehou

Sy het Amy’Leigh de Jager (6) die dag van haar “ontvoering” gesien. Sy is dáár weggesteek, sê ’n werker op die kleinhoewe wat Pieter van Zyl pas verkoop het, en wys na ’n watertoring.

Van Zyl is een van Amy’Leigh se vermeende ontvoerders.

Die heldergroen watertenk staan soos ’n seer duim uit op die grou erf. Dit staan bo-op ’n grys struktuur van nie meer as twee by drie meter breed nie. Die vertrek se lendelam traliehek, waarvan die verf plek-plek afdop, staan oop. Daar staan net ’n enkele gehawende, vuil rusbank in die kamer. Geel spons peul plek-plek uit.

Die stoorkamertjie in die onderste deel van die watertoring op die kleinhoewe waar Amy’Leigh de Jager glo tydens haar “ontvoering” aangehou is. Foto: Felix Dlangamandla

Dit was waarskynlik eens op ’n tyd ’n stoorkamer. Nou is dit net die kamer waar die sesjarige meisietjie na bewering ’n week gelede vir nagenoeg 18 uur aangehou is, terwyl haar vermeende ontvoerders haar ouers glo vir ’n losprys van R2 miljoen probeer afpers het.

Amy’Leigh is verlede Maandag voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark ontvoer.

Van Zyl, in sy 50’s, Laetitia Nel, in haar 40’s, en ’n gr. RR-onderwyseres, Tharina Human (27), is weens die voorval in hegtenis geneem en het Maandag vlugtig in die landdroshof op die dorp verskyn.

“Pieter was ’n goeie ou,” sê die werker, wat nie haar naam wil noem nie.

Amy’Leigh de Jager is glo hier aangehou. Foto: Felix Dlangamandla

Dié werker bly agter die hoofhuis in haar klein huisie wat op die watertoring uitkyk.

Sy het Amy’Leigh glo Dinsdagoggend ook gesien voordat sy om 2:00 in 'n gevaarlike straat afgelaai is. Toe was die meisie in die hoofhuis, sê sy.

Van Zyl se kleinhoewe in Rosashof grens aan die Bophelong-nedersetting teenaan Vanderbijlpark. Die werker se huisie is agter die hoofhuis en langsaan staan nog ’n gebou, waarin Van Zyl, glo ’n hoenderboer, se hoenders nou nog versorg word.

Die kleinhoewe lê vol boumateriaal.

’n Man in ’n blou oorpak kom uit die hoofhuis. Hy ken vir Van Zyl, ja.

“Ek ken hom al die laaste agt maande. Hy het die kleinhoewe aan my verkoop,” sê Adam Tsatsi.

Werkershuisies agter op die kleinhoewe. Die werker in die een huisie het glo vir Amy’Leigh met haar beweerde ontvoering by die watertoring en in die hoofhuis gesien. Foto: Felix Dlangamandla

Netwerk24 het betroubaar verneem dat Van Zyl en sy vrou, wat voorheen by ’n slaghuis op die dorp gewerk het, glo na Durban wou verhuis.

Volgens inligting het Van Zyl glo daar ’n werk gekry en het daarom sy kleinhoewe verkoop. Tsatsi bevestig hy het ook iets van “Durban” gehoor.

Hy sê hy het die kleinhoewe vir R750 000 by Van Zyl gekoop. “Die dag toe die papiere deur is, die dag wat my prokureur gesê het die koop is nou deur, het dit (die ontvoering) gebeur,” vertel Tsatsi.

Hy was toe nog nie op die kleinhoewe nie. Hy het sy werkers die Woensdag of Donderdag (hy is nie seker nie) eers na die kleinhoewe gebring.

Die huis op die kleinhoewe waar Pieter van Zyl die sesjarige Amy’Leigh de Jager glo aangehou het. Foto: Felix Dlangamandla

“Dieselfde middag het die polisie hier toegeslaan. Die polisie het eers gedink my werkers het iets daarmee te doen!” sê hy. Hy moes toe ingryp en die polisie anders oortuig.

Tharina Human Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark. Foto: Felix Dlangamandla

Tsatsi en sy werkers knap intussen die hoofhuis op. Die hele huis binne is spierwit geverf.

Agter in die erf hang ’n vrot reuk in die lug.

“Hy het dooie hoenders in ’n drom gegooi en net so vir my gelos. Ek sal dit een nag moet verbrand,” vertel Tsatsi.

Laetitia Nel is blykbaar ’n familielid van Van Zyl. Sy woon net in die pad af. Min inligting is nog oor Nel bekend, behalwe dat sy moontlik Human se naeltegnikus was.

’n Familielid van Nel wat Netwerk24 by die hek gegroet het, het gesê sy mag op regsadvies nie met die media praat nie. Sy wou haarself ook nie identifiseer nie.

Die formele borgtogaansoeke sal na verwagting op 19 September aangehoor word.

Van links is Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl. Hulle het Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn. Foto: Felix Dlangamandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.