Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
FOTO’S: Polisie toon hul staal op Vlakte ná Cele se aankondiging
Die operasie is begin etlike ure nadat Bheki Cele, minister van polisie, aangekondig het dat die weermag vir drie maande op die Kaapse Vlakte ontplooi sal word. Foto: Jaco Marais

Die Kaapstad-metro het Vrydagoggend gesê hulle verwelkom die aankondiging dat swaar gewapende polisielede saam met lede van die weermag vir die volgende drie maande as deel van ’n grootskaalse ingrypingsoperasie alle bende- en moordgeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte “afbaken” om ’n einde aan geweldsmisdade te maak.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê hulle verwelkom die besluit om die polisiekantore te probeer stabiliseer waar gemeenskapslede erg weens bendebedrywighede en misdaad ly.

“Die misdaadsyfer in dié gemeenskappe het regtig die punt van ’n noodtoestand bereik en dit bedreig die stabiliteit en reputasie van die stad in die geheel.”

Smith sê die DA sê al vir ’n geruime tyd dat dit nie moontlik is dat beleggings in maatskaplike ontwikkeling en infrastruktuur gebruik kan word om omstandighede in dié gebiede te normaliseer, as stabiliteit nie eers verseker kan word nie.

“Die koeëls moet eers ophou vlieg voordat klinieke en biblioteke kan oopbly of behuising kan verbeter. Dit sal daartoe bydra dat die gemeenskap weer kan funksioneer en sodoende sal werkskepping plaasvind.”

Swaar gewapende polisielede is Vrydag in die vroeë oggendure op die Kaapse Vlakte ontplooi. Die weermag was egter nie teenwoordig nie.Foto: Jaco Marais

Smith sê hy verwelkom die ontplooiing van die weermag op kort termyn sodat die polisie ondersoeke kan afhandel en mense kan vervolg sodat hulle vir hul dade kan boet.

Hy meen egter dat die ontplooiing net ’n tydelike oplossing is sodat vrede in gemeenskappe bewerkstellig kan word.

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het dié drastiese en buitegewone ingryping Donderdagaand by die parlement aangekondig nadat Cele sy begrotingsrede gelewer het.

Cele sê hy en Nosiviwe Mapisa-Nqakula het in hul hoedanigheid as medevoorsitters van die ministers in die veiligheidsgroepering ná die 13 moorde in Philippi die afgelope naweek besluit dat iets gedoen moet word om die moorde op die Kaapse Vlakte te stop.

Onder die 13 slagoffers was ses jong vroue wat Vrydagaand doodgeskiet is. Een van die slagoffers se ma, Ernes Anderson, het aan die publikasie GroundUp gesê, haar dogter, Siya (20) en vyf vriendinne is in hul erf doodgeskiet in wat soos beplande teregstellings gelyk het.

Tog is die motief vir die moorde op Siya, Zoleka Bulana (27), Queen Bulana (26), Nomathandazo Nomgcana (18), Gcobisa en Lelethu nie bekend nie. Gcobisa en Lelethu se van en ouderdom kon nie deur GroundUp vasgestel word nie.

“Ek kon die skote tot by die kerk hoor, maar niemand het aandag daaraan gegee totdat ’n jong seun my kom roep het nie. Ek het voor die polisie by die huis aangekom en my dogter in ’n plas bloed saam met haar vriendin gekry. Ek het gehuil terwyl hulle haar toegegooi het.”

Cele het Donderdagaand gesê hy hoop die operasie kan die situasie op die Kaapse Vlakte omkeer.

“As ek nie hoop het nie, moet ek maar huis toe gaan.”

Die teenmisdaadoperasie op die Kaapse Vlakte het Vrydag om 02:00 begin. Foto: Jaco Marais
Voertuie is voorgekeer en deursoek. Foto: Jaco Marais
’n Lid van die polisie dra ’n klapmus teen die Kaapse winterkoue. Foto: Jaco Marais
Bheki Cele het die hoop uitgespreek dat die ontplooiing die situasie op die Kaapse Vlakte sal omkeer. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Bendegeweld  |  Jp Smith  |  Bheki Cele  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.