Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Franse toeris vertel van aanval by Victoriabaai

’n Franse egpaar wat Dinsdag by Victoriabaai in die Suid-Kaap aangeval en beroof is, gaan nie hulle vakansie in Suid-Afrika daaroor kortknip nie.

Victoriabaai. Foto: Jackie Kruger

Die egpaar van Parys in Frankryk het Dinsdagmiddag by Victoriabaai gaan stap toe hulle deur twee aanvallers oorval is. Die 54-jarige man het onder meer kopwonde opgedoen wat vermoedelik met ’n mes toegedien is. Sy 63-jarige vrou is minder ernstig beseer.

Die man het Woensdag ingestem om (telefonies) met Netwerk24 vanuit sy hospitaalbed in die George Mediclinic se hoësorgeenheid te praat. Hy het gevra dat hul name en foto’s nie gepubliseer word nie.

“Ons het nie eens ons mense in Frankryk laat weet wat gebeur het nie, anders is hulle bekommerd.”

Volgens hom het hulle Maandag in George aangekom.

Dinsdagmiddag het hulle ’n entjie by Victoriabaai gaan stap.

“Alles was oukei. Bo Victoriabaai het ek gesien twee mans hou ons dop. Ek wou foto’s neem. Een van hulle het vir ’n sigaret gevra. Ek het vir hom een gegee.”

Die egpaar het weer dieselfde pad teruggestap. Toe hulle by die treinspoor kom was die mans daar. “Hulle was voor my vrou. Sy het geskree.”

Die mans het hulle met vermoedelik ’n mes aangeval. Hulle kon die Franse man egter nie neerpen nie. Hy is teen die kop geslaan.

’n Deel van die staproete by die treinspoor by Victoriabaai.

“Ek het niks gevoel nie. Eers agterna het ek gehoor ek is beseer. My vrou het gesê, ‘jy het seergekry’.”

Die mans het met die egpaar se sak weggehardloop waarin onder meer geld was. Sy vrou se been en hand is beseer.

’n Vroeëre foto van ’n kennisgewingbord op die staproete by Victoriabaai.

’n Onbekende persoon het die polisie gebel en dié het weer die nooddienste ontbied en die egpaar is toe na die hospitaal geneem.

Volgens die man sal hy na verwagting later Woensdag of Donderdag ontslaan word. Hy sê hulle gaan nie hul vakansie kortknip nie en besoek Kaapstad volgende week.

“Dit is oral in die wêreld gevaarlik.”

Hulle vertrek op 6 Desember terug Frankryk toe.

Kapt. Nolonwabo Tshengu, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Charles Newham, voorsitter van die Wildernis-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat Victoriabaai insluit, sê by navraag mense moet probeer om in groepe van meer as twee te stap en vooraf inligting by die munisipaliteit of polisie kry oor waar dit veilig is.

Waarskuwingsborde is vroeër op die staproete by Victoriabaai aangebring oor die gevaar van aanvalle.

Meer oor:  Frankryk  |  Toeris  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.