Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Gans te min’ polisie by ORT

Elke polisiebeampte by die besigste lughawe in Afrika moet die skoene van twee beamptes vul.

Die DA sê dié chroniese personeeltekort en onderbesteding van die polisiediens dra daartoe by dat miljoene rande se dwelms jaarliks by die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park gesmokkel word.

“Die stasiebevelvoerder het vir ons gesê dat slegs 605 poste (insluitend die administrasiepersoneel) uit die vereiste 1 200 poste gevul is,” sê Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor polisie.

Luidens ’n mediaverklaring is hulle meegedeel die grootste veiligheidsrisiko is die korrupte werknemers in onder meer die departement van binnelandse sake, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) en die polisie.

“In die verlede het die private veiligheidsdienste, die polisie en die lughawepersoneel die rooftogte saam uitgevoer. Dié vlak van georganiseerde misdaad kan slegs deur die misdaadintelligensiediens teengewerk word,” sê Mbhele.

Hy sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Acsa en die departement van binnelandse sake moet die polisie ondersteun in sy taak om die lughawe te beveilig en die passasiers te beskerm.

Leigh Gunkel-Keuler, woordvoerder van die lughawe, sê die bestuur is deur die media oor die besoek ingelig en het die navraag na die polisie verwys.

'n Senior misdaadintelligensiehoof moet egter by dié polisiekantoor aangestel word om op die sindikate wat vir die dwelmsmokkelary verantwoordelik is, toe te slaan.
Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor polisie

Thabo Mokgola, woordvoerder van binnelandse sake, sê veiligheid by die lughawe is nie die departement se verantwoordelikheid nie.

“Binnelandse sake se verantwoordelikheid by die lughawe is streng beperk tot die fasilitering van dokumente vir die doeleindes van reise in en buite die land,” sê Mokgola.

Die woordvoerders van Acsa en die SAID het die navraag ook na die polisie verwys.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê hy “kan weens veiligheidsredes nie op die polisiekantore se kapasiteit kommentaar lewer nie”.

“Die polisie by die hawens werk nou saam met verskeie departemente. Ons benadering tot misdaadbestryding is daarom multidissiplinêr,” sê Naidoo.

“By O.R. Tambo werk die polisie saam met die lughawe en Acsa se veiligheidsdienste, binnelandse sake, die SAID, doeane en aksyns.

“Die suksesse wat by O.R. Tambo bereik word, bestaan meestal uit die inhegtenisnemings van dwelmsmouse en beslagleggings op dwelms.”

Mbhele erken dat daar die afgelope jaar “ ’n welkome verbetering in die sekuriteit is” sedert die lughawe ’n proses van herstrukturering ingestel het en die bestuur opgeknap het.

“ ’n Senior misdaadintelligensiehoof moet egter by dié polisiekantoor aangestel word om op die sindikate wat vir die dwelmsmokkelary verantwoordelik is, toe te slaan.”

Meer oor:  Acsa  |  Said  |  Departement Van Binnelandse Sake  |  O.R. Tambo-Lughawe  |  Dwelms  |  Smokkel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.