SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Misdaad
Gauteng 4de op lys vir kans om vermoor te word

Hoewel die totale moordsyfer anders sê, is die kanse om in Gauteng vermoor te word laer as in minstens drie ander provinsies.

Volgens die polisie se misdaadstatistieke wat Dinsdag bekend gemaak is, het Gauteng naas KwaZulu-Natal op 4 233 moorde in die afgelope boekjaar die tweede hoogste moordsyfer.

Gareth Newham, hoof van die afdeling geregtigheid en voorkoming van geweld by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê egter die waarskynlikheid om in Gauteng vermoor te word, is laer as selfs in die Vrystaat.

“Die moorde (in Gauteng) is meer, want die mense is meer. As jy dit vergelyk met die ratio (tot ’n 100 000 inwoners) is jou kans om in Gauteng vermoor te word steeds minder.”

Volgens die statistiek word daar byna 29 Gautengers uit elke 100 000 vermoor. In KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Wes-Kaap is hierdie ratio’s onderskeidelik 39, 36 en 56 tot 100 000.

Rooftogte met verswarende omstandighede het wel afgeneem in die land, maar dit bly die hoogste in Gauteng. Newham skryf dit toe aan swak polisiëring in die provinsie. “Tussen 2009 en 2011 het die polisie ’n strategie gevolg teen motorkapings, huisrooftogte en sakerooftogte. Hulle het nou saamgewerk met misdaadintelligensie en hierdie misdade werklik hokgeslaan.”

Sedert 2012 het die verhouding met misdaadintelligensie egter verbrokkel en het die strategie gesneuwel.

Hy benadruk inwoners is onder ’n wanindruk dat misdaad toeneem weens buitelanders wat die provinsie binnekom. “As jy die dossiere in die hande kry, sal jy sien dat 93% van ons misdaad deur Suid-Afrikaners gepleeg word en slegs 7% deur buitelanders.”

Volgens Newham is die toename in seksuele misdrywe nie iets wat die polisie alleen kan hokslaan nie. “Hierdie probleem spruit uit die chauvinistiese manier waarop seuns en mans gesosialiseer word. ’n Seun wat in ’n huis met gesinsgeweld grootgemaak word, is vier keer meer geneig om self geweldadig te wees. ’n Meisie wat in sulke omstandighede grootword, is vier keer meer geneig om geweld te aanvaar,” sê Newham.

Die polisie het al herhaaldelik gesê dat hy nie alleen misdaad kan oplos nie. Die gemeenskap moet help, en waar dit gebeur, is die resultate positief

Pretoria se Moot-polisiekantoor het ’n afname in byna al die statistiek getoon. Elsabé van Staden, voorsitter van die kantoor se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die sigbaarheid van die polisie en die GPF, asook die goeie verhouding tussen hulle, is deel van die sukses. Waar die polisie ’n tekort aan hulpbronne soos voertuie het, kan die GPF hul bystaan. Diefstal uit voertuie en diefstal van voertuie (dikwels weens seinblokkeerders) is nog ’n uitdaging. “Maak seker jou voertuig is gesluit voor jy loop en moenie uitklim en voor toeskouers waardevolle items in jou kattebak laai nie,” sê sy.

  • Kapt. Colette Weilbach van die Brooklyn-polisiestasie meen daar is ’n toename in voetgangers wat van selfone beroof word. “Verdagtes is meestal in voertuie. Hulle stop langs jou, gryp jou foon en jaag weg.”

  • Hennie Oosthuizen, hoof van die Randburg-GPF, sê mense moet hul oë oophou vir agtervolgers van winkelsentrums af. “Tussen 16:00 en 17:00 staan die verkeer op William Nicol (in Randburg) byna stil. Lós jou selfoon. Daar is daagliks tussen drie en vier sulke rooftogte. Die rowers weet jy kan nêrens heengaan in die verkeer nie.”

  • Almal moedig die gemeenskap aan om by die GPF in hul streek aan te sluit.
Dis wat jou lewe en dié van hooggeplaastes werd is

Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor polisie, het onlangs bepaal die regering spandeer sowat R1 500 per persoon per jaar om gewone Suid-Afrikaners te beveilig. Daarteenoor word sowat R9,7 miljoen per persoon opgedok om hooggeplaastes te beskerm.

Dié syfers blyk uit inligting wat die minister van polisie aan Mbhele verskaf het.

  • Die aantal mense wat deur die presidensiële beskermingseenheid (PPS) beskerm word (1 April 2017 tot 6 Junie 2017, toe die minister se terugvoer ontvang is) is 289.
  • Die begroting vir die PPS in 2017/’’18 was R2 808 100 000 (R2,8 miljard).
  • Die koste per hooggeplaaste is dus R9 716 608 (R9,7 miljoen per persoon).
  • Die bevolking van Suid-Afrika (soos geskat in die middel van 2018) is 57 725 600.
  • Die totale begroting vir landsburgers volgens die polisiebegroting van 2017/’18 is R87 761 100 000 (R87,7 miljard) minus die R2,8 miljard wat op die PPS spandeer word – dus R84 953 000 000 (R84,9 miljard)
  • R84,9 miljard gedeel deur die totale aantal Suid-Afrikaners werk uit op R1 471,66 per persoon.
Mense bestee soveel aan hulle eie veiligheid

Gary Thompson van Stemar Security Systems in Randburg installeer al vir 16 jaar lank elektriese heinings.

“Vir ’n gewone heining van 30 x 30 meter kyk jy na tussen R15 000 en R20 000.”

  • Wat kringtelevisiekameras betref, is die norm ses kameras, maar agt tot tien kan nodig wees, sê Thompson. “Vir ses kameras kyk jy na so R26 000.” Hy vertel van ’n nuwer tipe kamera, met ’n beter beeld. “Hier kyk jy na so R40 000 tot R50 000.”
  • ’n Alarmstelsel met agt sones en ’n straalstelsel kos volgens ’n ander verskaffer R17 000.
  • Buiten die installering van alarmstelsels, betaal jy nog boonop ’n maandelikse fooi vir gewapende reaksie. Dit kan minstens R350 per maand uitwerk, meen Thompson.
  • Volgens Thompson kos die hok wat jy vir versekeringsdoeleindes om jou hekmotor moet oprig ook minstens R1 200.

As jy jou huis behoorlik wil beveilig, gaan jy net vir die toestelle meer as R60 000 moet hoes.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag die moordsyfer met dié van ’n oorlogsone vergelyk. Só vergelyk dit werklik:

  • Aantal sterftes onder Westerse koalisiesoldate tussen 2001 en 2018 in Afghanistan: 3 547. Gauteng-moorde in die jongste boekjaar: 4 233.
  • Franse dodetal en beseerdes in die veldslag van Waterloo: 25 000. Sterftes van Geallieerdes: 23 000. Die Suid-Afrikaanse moordsyfer is 20 336 .
  • Dodetal van Amerikaanse soldate tydens die oorlog in Viëtnam: 58 220.
Bronne:

https://www.statista.com/statistics/262894/western-coalition-soldiers-killed-in-afghanistan/

https://www.history.com/this-day-in-history/napoleon-defeated-at-waterloo

https://www.archives.gov/research/military/vietnam-war/casualty-statistics

Meer oor:  Gauteng  |  Moord  |  Beveiliging  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.