Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gauteng ’n paradys vir moordenaars en rowers

Allan Wolmarans (54) herleef daagliks die traumatiese dag toe sy lewensmaat van die afgelope 16 jaar gedurende ’n rooftog vroeg in Julie by hul supermark vermoor is.

Wolmarans se broer, Pieter, het Vrydag gesê Marthie Rademeyer (44) was altyd langs Wolmarans se sy by die familie-onderneming op ’n kleinhoewe noord van Pretoria. “Dit gaan emosioneel swaar met Allan.” Rademeyer is gedurende die rooftog doodgeskiet.

Die skokkende reëlmaat waarmee mense dié diep persoonlike verliese moet verwerk, word weerspieël in die jongste misdaadstatistieke waaruit blyk Gauteng is ’n paradys vir moordenaars en rowers.

Allan Wolmarans en Marthie Rademeyer. Foto: Verskaf

Bheki Cele, minister van polisie, het die misdaadstatistieke vir die 2019-’20-boekjaar Vrydag bekend gemaak.

Gauteng is die provinsie landwyd waar die tweede meeste moorde in die nuutste boekjaar (1 April 2019 tot 31 Maart 2020) gepleeg is. Die meeste moorde was in KwaZulu-Natal (4 859).

In Gauteng is 60 meer moorde in die 2019-’20-boekjaar gepleeg, met die syfers wat verlede jaar op 4 495 gestaan het. Die jongste syfers sluit vyf moorde in wat volgens die polisie op plase en hoewes in Gauteng gepleeg is.

Gauteng is ook ’n rowersparadys. Die meeste huisrooftogte (341) landwyd is by die Honeydew-polisiekantoor in Johannesburg aangemeld. Gauteng het boonop die twyfelagtige eer om die boonste drie posisies te beklee onder 30 polisiekantore landwyd waar die meeste huisrooftogte aangemeld is.

Die tweede meeste huisrooftogte landwyd (205) was in Sandton, Johannesburg, en die derde meeste (191) by die Douglasdale-polisiekantoor naby Sandton.

Anders polisiekantore in Gauteng wat die top-30 vir huisrooftogte landwyd gehaal het, is onder meer Diepsloot, Soshanguve, Midrand en Randburg.

Die silwer randjie is wel dat huisrooftogte in Gauteng sedert die vorige boekjaar met 11% afgeneem het. Altesaam 8 644 voorvalle is in 2018-’19 aangemeld, teenoor die jongste 7 695 gevalle.

Die meeste voorvalle van roof met verswarende omstandighede (1 802) landwyd is by die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor aangemeld.

Die Honeydew-polisiewyk in Johannesburg is ook die kantoor waar die meeste trio-misdrywe (motorkaping en sake- en huisrooftogte) landwyd aangemeld is. Verskeie polisiekantore in Gauteng is onder die top-30 landwyd in dié kategorie, onder meer Sandton, Booysens, Johannesburg-Sentraal, Tembisa en Kempton Park.

Motorkapings het die afgelope boekjaar met 16,1% in Gauteng toegeneem. Daar was 9 025 voorvalle in 2019-’20, 1 249 meer as in die vorige boekjaar.

Die tweede meeste huisinbrake landwyd (1 175) is ook die afgelope boekjaar by die Honeydew-polisiekantoor aangemeld.

Ander misdaadkategorieë waar Gautengse polisiekantore landwyd onder die top-30 tel, sluit onder meer in moord, poging tot moord, seksuele oortredings, verkragting, motorkaping en transitorooftogte.

Feitlik alle kontakmisdade het toegeneem. Aanrandings het met 3,9% (47 356 voorvalle) die meeste gestyg en roof met verswarende omstandighede met 3,6% tot 53 927 voorvalle.

Seksuele misdrywe soos verkragting en seksuele aanranding het ook toegeneem.

Die meeste eiendomsverwante misdrywe in Gauteng het die afgelope boekjaar gedaal. Dit sluit onder meer in motordiefstal, diefstal uit ’n motorvoertuig en huisinbrake. Laasgenoemde het met 7,7% gedaal tot 4 112 voorvalle. Dwelmverwante misdrywe het met 22,2% tot 43 275 voorvalle gedaal.

Veediefstal het effe afgeneem van 994 voorvalle in die vorige boekjaar tot 988 voorvalle. Gauteng is die provinsie landwyd waar die minste voorvalle van veediefstal aangemeld is. Die Oos-Kaap het die meeste veediefstalvoorvalle (6 800) gehad.

Meer oor:  Allan Wolmarans  |  Gauteng  |  Moordenaars  |  Rowers  |  Paradys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.