Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gauteng steier onder geslagsgeweld

In die jongste voorval van geslagsgebaseerde geweld het ’n man glo Dinsdagaand sy 21-jarige vriendin en haar 43-jarige ma in Nguni, Vosloorus, doodgeskiet.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het Woensdag vir meer verdraagsaamheid en selfbeheersing gevra ná ’n week waarin vyf vroue in afsonderlike voorvalle na bewering deur hul lewensmaats vermoor is.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het Woensdag in ’n verklaring gesê daar word na die man gesoek wat aan die Vosloorus-voorval verbind word. “Die vriendin se suster is ook tydens die voorval gewond en is na ’n plaaslike hospitaal geneem.”

Die man het na bewering by die slagoffers se huis opgedaag en sonder om ’n woord te sê ’n vuurwapen uitgepluk en skote afgetrek. ’n Saak van dubbele moord en poging tot moord word ondersoek.

Vier kinders is beseer en na die hospitaal geneem toe ’n groep van die gemeenskap geweier het om ’n verdagte aan die polisie te oorhandig.

In nog ’n voorval het ’n man hom aan die polisie by Rabieridge oorgegee nadat hy Maandag ’n vrou in Umthambeka in Tembisa glo ná ’n rusie doodgesteek het.

“Die polisie het op die lyk van die vrou en ’n huilende baba op ’n bloedbevlekte bed afgekom,” het Peters gesê.

In ’n derde voorval is polisielede Maandag na die Dali Mpofu- informele nedersetting ontbied ná die verkragting en moord van ’n 20-jarige vrou.

“Vier kinders is beseer en na die hospitaal geneem toe ’n groep van die gemeenskap geweier het om ’n verdagte aan die polisie te oorhandig. Die verdagte is aangeval en is later op die toneel dood gevind.”

Volgens Peters is die lyke van ’n 58-jarige vrou en haar kleinseuns, van 14 en nege jaar oud, Maandag in ’n huis in Protea Glen gevind. “Daar word vermoed dat ’n voormalige kêrel van die vrou by die voorval betrokke is.”

In ’n ander voorval Maandag in Westonaria is nog ’n vrou deur twee mans aangerand. “Sake van aanranding, teistering en intimidasie, asook bestuur onder die invloed van alkohol, word teen die mans ondersoek,” het sy gesê.

Mawela sê die vlakke van geweld teen vroue en kinders het kommerwekkende afmetings aangeneem, “veral as in ag geneem word dat daar in Gauteng ook groot getalle moorde in die vorige boekjaar aangemeld is.

“Dit is nie net getalle nie. Hulle was moeders, susters, dogters en het baie vir hul geliefdes beteken. Laat ons saamwerk om hulle te beskerm,” het Mawela gesê.

Meer oor:  Gauteng  |  Geslagsgeweld  |  Vroue  |  Vermoor  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.