Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gedenkdiens vir 2 ma’s wat gewelddadig sterf
Pastore en lede van die Bishop Lavis Action Community het die skare toegespreek op die gedenkdiens Sondagmiddag vir twee vroue wat in bendegeweld dood is. Foto: Verskaf

Inwoners van Bishop Lavis in Kaapstad het Sondag ’n gedenkdiens gehou vir twee vroue wat die naweek in bendegeweld gesterf het.

Janine Niewenhuys (26) en Cynthia Oosterhuizen (53) is onderskeidelik Vrydag en Saterdag in afsonderlike voorvalle doodgeskiet.

Oosterhuizen is die suster van James Bhemgee, wenner van SA’s Got Talent in 2010. Bhemgee, ’n straatveër van Mitchells Plain, het die harte van Suid-Afrikaners verower toe hy die gehoor met sy uitsonderlike stem bekoor het.

Volgens die polisie is Oosterhuizen in haar huis deur ’n dwaalkoeël getref toe gewapende mans buite haar huis losgebrand het.

Past. Lawrence Hermanus troos gemeenskapslede tydens die gedenkdiens. Foto: Verskaf

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê die voorval was in Inkblomstraat, Kalksteenfontein. Twee mans is kort daarna aangekeer.

“Die mans, 23 en 36, sal binnekort in die landdroshof in Bishop Lavis verskyn."

Niewenhuys is Vrydag buite die hof in Bishop Lavis in bendekruisvuur raakgeskiet toe sy vir ’n taxi gewag het.

Rwexana sê die polisie is steeds op soek na die aanvallers.

Amanda Davids, van die Bishop Lavis Action Community (BLAC), sê inwoners het genoeg gehad van die sinnelose aanvalle wat onskuldige lewens eis.

Oud en jonk het bymekaargekom om musiek te maak en hulde te bring aan die vroue wat hul lewe verloor het. Foto: Verskaf

“As ons vroue afgemaai word, het die situasie duidelik epidemiese afmetings bereik. Ons wil weet hoekom die owerhede nog nie die Kaapse Vlakte tot rampgebied verklaar nie. Ons word elke dag deur ’n oorlog in die gesig gestaar,” sê Davids.

Sy sê die tyd het aangebreek om na aksie oor te gaan.

“Ons hou die gedenkdiens om die soeklig te plaas op twee ma’s wat gewelddadig van hul families weggeneem is.”

Inwoners sê hoewel daar ’n teenbende-eenheid in die gemeenskap ontplooi is, bring dit maar min verligting vir die voortslepende geweld.

“Genoeg is genoeg. Die geweld moet end kry,” sê Davids.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.