Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geen deurbraak in ondersoek na moord op Costa Panayiotou

Die polisie in die Oos-Kaap het ná bykans vier maande nog geen deurbraak in sy ondersoek na die moord op die sakeman Costa Panayiotou gemaak nie.

Panayiotou (69), pa van die veroordeelde moordenaar Christopher, is op 9 Desember verlede jaar in die vroeë oggendure voor sy winkel, Bambi Snack Bar, in Markstraat, Uitenhage, doodgeskiet.

Christopher dien lewenslange tronkstraf uit nadat die hof bevind het dat hy die baasbrein van die huurmoord op sy vrou, Jayde, in April 2015 was.

Sinethemba Nenembe, een van Jayde Panayiotou se veroordeelde moordenaars, se pa is in Maart in Port Elizabeth vermoor. Foto: Argief

Die aanvallers het Panayiotou en ’n vroulike werknemer, wat hy oudergewoonte by die huis sou aflaai, op die aand van sy moord buite sy winkel oorrompel. Hy is twee keer geskiet en op die toneel dood. Sy aanvallers het die vrou in sy Volkswagen Polo ontvoer. Sy is na bewering verkrag voordat sy naby ’n taverne in KwaZakhele afgelaai is. Die gekaapte Polo is later verlate in Motherwell gevind.

Christopher Panayiotou, veroordeelde baasbrein van sy vrou, Jayde, se moord. Foto: Argief

Kapt. Khaya Tonjeni, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat die provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad die moord ondersoek, maar dit het tot dusver nog tot geen deurbraak gelei nie.

Jayde Panayiotou Foto: Argief

Die polisie ondersoek ook nog die moord op die pa van nog een van Jayde se veroordeelde moordenaars.

Die pa van Sinethemba Nenembe, wat ook lewenslank vir Jayde se moord gevonnis is, is op 19 Maart in KwaZakhele vermoor.

Luthando Siyoni, vermeende middelman in die Jayde Panayiotou-moord. Foto: Argief

Volgens kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, het drie mans Vumikava Nenembe (56) die betrokke dag net voor 13:00 in Spanduweg voorgekeer.

Nenembe het in sy in afleweringsvoertuig gery toe sy aanvallers glo probeer het om die voertuig se deur oop te pluk en op hom losgebrand het.

Beetge sê die aanvallers het met leë hande gevlug.

Nenembe is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Volgens ’n polisiebron word daar nie amptelik ’n verband tussen die twee moordsake ondersoek nie, maar daar word na alle moontlikhede gekyk.

Intussen sal die verhoor teen Luthando Siyoni, die vermeende middelman in die huurmoord op Jayde, in Mei begin. Die saak is vir vier weke op die hooggeregshof in Port Elizabeth se hofrol geplaas.

Siyoni was in 2015 die eerste verdagte wat vir die moord op Jayde vasgetrek is. Hy het ’n bekentenis afgelê en sy samewerking aan die polisie gegee om later as ’n art. 204-staatsgetuie in die hofsaak op te tree. Dit sou Siyoni ingevolge die Strafproseswet vrywaar van vervolging indien die hof bevind dat hy ’n eerlike en openhartige getuie was.

Siyoni het egter gedurende die verhoor geweier om vrae van die staatsaanklaer te antwoord en die inhoud van sy bekentenis ontken.

Regter Dayalin Chetty het in sy uitspraak gelas dat Siyoni ook op aanklagte van sameswering om moord te pleeg én die moord op Jayde vervolg moet word.

Siyoni is in aanhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.