Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die owerhede is nie ernstig oor plaasaanvalle en die geweld wat daarmee gepaardgaan nie.
Groenewald het gereageer op die skokkende voorval waarin Simon Makhota (77), ’n plaasbestuurder van Zastron, Sondagaand aangeval is en op wreedaardige wyse in ’n septiese tenk gegooi en met klippe bestook is.
LEES OOK: Plaasvoorman (77) ure gemartel en in septiese tenk gegooi
Die polisie het volgens inligting nie Maandagoggend, toe hulp ontbied is, ’n voertuig beskikbaar gehad om die plaas te besoek nie.
’n Polisielid het glo op eie koste met sy private voertuig die plaas besoek.
Dit wil voorkom asof die polisie se nasionale landelike beveiligingsplan, wat teen 31 Augustus verlede jaar in werking gestel sou word maar toe weens die Covid-19-pandemie uitgestel is, nie meer ’n prioriteit is nie, sê Groenewald.
Hy sê infrastruktuur en mannekrag is twee van die belangrikste komponente van die beveiligingsplan en dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar dat daar klaarblyklik geen vordering gemaak is met die plan nie.
Die VF Plus het reeds met die aanvang van die beveiligingsplan in 2019 daarop gewys dat vorige soortgelyke planne misluk het omdat woorde nie in dade omgesit is nie.
“Wat tans gebeur, is ’n herhaling van die vorige mislukking,” sê Groenewald.
Die party dring lank reeds daarop aan dat plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar word sodat meer hulpbronne beskikbaar gestel kan word vir landelike beveiliging. Hy sal aanhou om hom hiervoor te beywer.
Groenewald sê hy sal die saak weer opneem in die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie, asook met die nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khehla Sitole.
Die pandemie en die inperkingsregulasies kan nie as verskoning gebruik word om ook hierdie inisiatief te kelder nie, sê hy