Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Geen genade’ vir 12-jarige se moordenaars, sê LUR

“Hulle kan wegkruip, maar ons sal hulle kry en hulle sal genadeloos gestraf word.”

Die plek waar die 12-jarige Rethabile Rapuleng raakgeskiet is.

Dit was Donderdag die boodskap van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, aan die moordenaars van die 12-jarige Rethabile Rapuleng wat Woensdag deur ’n dwaalkoeël buite ’n laerskool in Ekurhuleni getref is.

Lesufi het buite die Izibuko Primary School in Katlehong sy skok oor die voorval uitgespreek en gesê dat dié gr. 6-leerling se moordenaars vervolg moet word.

“Hulle het nou die saadjie van geweld in die kinders se koppe geplant. Hulle sal dit wat hulle gesien het nooit vergeet nie. Die polisie moet hierdie misdadigers aankeer.

“Hulle kan vlug en probeer wegkruip, maar ons sal hulle opspoor. En as ons hulle kry, sal die gereg geen genade aan hulle betoon nie,” het Lesufi gesê.

Rethabile, ’n leerling van die Mogobeng Primary School in Katlehong is Donderdagoggend in die Bertha Gxowa-hospitaal in Germiston dood.

Lees ook: Leerling (12), man Woensdag buite skool doodgeskiet

Volgens Busi Luthuli, waarnemende direkteur van onderwys, het die skietery Woensdag omstreeks 18:00 voor Izibuko gebeur. Volgens hom was die skieters se teiken vermoedelik ’n man wat sy twee kinders by die skool kom haal het nadat hulle op ’n skooluitstappie Walkerville toe was.

Rethabile is die middag na die Izibuko Primary School om een van haar vriende, wat op die uitstappie was, te gaan groet.

Rethabile Rapuleng se tannie Zanele Molefe.

Luthuli beweer die man se aanvallers het hom tot by die skool agtervolg en hom toe doodgeskiet. Rapuleng het in die kruisvuur beland en is in die kop geskiet.

Raadslid Boikie Nyathi beweer dat die skietery met taxigeweld verband hou omdat die vermoorde man glo bande met die taxibedryf het. “Daar was ’n Quantum-taxi wat ná die skietery weggejaag het,” beweer hy.

Rethabile se tannie Zanele Molefe (41) het saam met haar hospitaal toe gery. “Sy het nie gepraat nie. Ek het aanhoudend geskree sy moenie moed opgee nie, en dan het sy probeer asemhaal.”

Bongani Ngwenya, hoof van die Izibuko Primary School, sê die leerlinge is getraumatiseer ná Woensdag se skietery. “Om dinge te vererger het dit ten aanskoue van die leerlinge gebeur toe hulle van die uitstappie teruggekeer het. Dit is vir hulle baie traumaties. Die leerlinge wat dit gesien het, is nie vandag by die skool nie. Een ouer sê hul kind kan nie slaap nie.”

Volgens kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die Ekurhuleni-polisie, is niemand al aangekeer nie. Hulle weet nog nie wat die rede vir die skietery was nie.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Ekurhuleni  |  Katlehong  |  Gauteng  |  Moordenaars  |  Dwaalkoeël
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.