Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Geen haat of wraak nie, sê Polokwane-vroue se familie

Die familie van die vermoorde Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), van Polokwane haat nie die vermeende moordenaars nie en koester geen wraakgedagtes nie.

Só het Christa Deacon, Maandagmiddag buite die huis in die Alpetra-meenthuiskompleks in Welgelegen in Polokwane, waar haar skoonsuster en skoonma oorval, met ’n mes gesteek en ontvoer is, gesê.

Sy het die familie verteenwoordig tydens ’n besoek van drie LUR’e en twee burgemeesters van Limpopo wat hul medelye met die familie betoon het.

Thabo Mokone, LUR vir ekonomiese ontwikkeling van Limpopo, by Christa Deacon, ‘n familielid van die vermoorde Lizette Deacon en haar ma, Hettie, Maandagmiddag buite die meenthuis in Polokwane waar hulle Donderdag ontvoer is. Foto: Marietie Louw-Carstens
Christa Deacon is die skoonsuster van Lizette Deacon en skoondogter van Hettie Deacon. Foto: Marietie Louw-Carstens

“Ons hoop nie hul dood was verniet nie, dat dit mense meer bewus sal maak van geweld teen vroue. Ons hoop dit verander mense se harte en dat dit ’n boodskap van liefde en vrede uitstuur.”

Sy is getroud met Lizette se enigste broer, Quintin. Hulle het van die Kaap af gevlieg ná die skoknuus van die moorde op Lizette en Hettie.

Lizette was die eienaar van die Ocean Basket-restaurante in die Savannah Mall en in Mall of the North. Sy was ook mede-eienaar van drie van dié restaurante in Gauteng. Hettie het haar met bestuurspligte in die restaurante gehelp.

Hulle is vroeg Donderdagaand uit hulle meenthuis in Lizette se Honda-luikrugmotor ontvoer. Hulle lyke is ure later agter in die bagasieruim van die motor in ’n veld sowat 25 km buite Polokwane langs die R37 naby die Chuenespoortdam gekry.

“Toe ons hoor hulle is ontvoer het ons bly hoop ... en toe ons later hoor hulle is dood het ons gehoop dit was vinnig verby en dat hulle nie gely het nie.”

Hettie Deacon (79) van Polokwane wat Donderdag saam met haar dogter Lizette ontvoer en vermoor is. Foto: Facebook/Christa Deacon

Christa sê die familie “kan nie nou aan hulle laaste ure dink nie.” Hettie sou in November haar 80ste verjaardag gevier het.

Ds. Dopper Erasmus, wat ’n jarelange vriend van Lizette en Hettie was en wat Dinsdag hulle roudiens sal waarneem, het gesê “hy worstel met veral die manier hoe hulle dood is.”

Lizette en Hettie het in Maart in die Alpetra-meenthuiskompleks ingetrek nadat hulle ’n woonstel gehuur het by Erasmus en sy vrou, Rita.

Thabo Mokone, LUR vir ekonomiese ontwikkeling in Limpopo, het Maandagmiddag gesê die provinsiale regering is bekommerd oor die toename in misdaad in die provinsie. “Ons is saam met die Deacon-familie hartseer oor die moorde op Lizette en Hettie. Hulle was plaaslike sakemense en dis tragies wat met hulle gebeur het.”

Mokone is vergesel deur Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR vir veiligheid, Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Thembi Nkadimeng, burgemeester van Polokwane en John Mpe, burgemeester van die Capricorn-distriksmunisipaliteit, waarbinne Polokwane val.

Christo van der Merwe, ’n vriend van Lizette en Hettie, wat in dieselfde meenthuiskompleks bly, was Maandag verslae.

Lizette Deacon (55), ’n sakevrou van Polokwane is Donderdag saam met haar ma, Hettie Deacon, ontvoer en vermoor. Foto: Verskaf

“Om te dink ek sit in my meenthuis en meters van hier gebeur dit met hulle. Sy (Lizette) het vroeër die middag nog haar hare gaan sny.”

Hy is Donderdag omstreeks 18:00 na hul huis nadat Lizette nie vir ’n afspraak by hom opgedaag het nie. Die houtvoordeur was op ’n skreef oop, hy het ingegaan en na hulle geroep, maar die huis was stil.

’n TV-stel wat op die vloer in die meenthuis gestaan het, het Van der Merwe onraad laat vermoed. Hy is in Lizette se kamer in waar die kaste se laaie oopgepluk en kussings op die vloer gelê het.

“Ek het bloed op die mat gesien en geweet iets groot is fout.” Daar word vermoed dat die vermeende moordenaars by ’n staalhek wat uit die Deacons se erf in lt. Gert du Toit-singel oopmaak, ingekom het.

Twee mans van onderskeidelik 35 en 30 jaar oud sal Dinsdag in die landdroshof in Polokwane op aanklagte van moord verskyn. Hulle is Sondag in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê daar word na nog verdagtes gesoek.

’n Roudiens vir Lizette en Hettie word Dinsdag om 11:00 deur Erasmus uit die NG kerk Polokwane Noord gehou. Die diens sal ook op Facebook uitgesaai word weens die Covid-19 beperkings.

Die meenthuis in Polokwane waar Lizette Deacon en haar ma, Hettie, Donderdag oorval en ontvoer is Foto: Marietie Louw-Carstens
Die meenthuis in die Alpetra-kompleks in Polokwane waar Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), Donderdag oorval en ontvoer is. Foto: Marietie Louw-Carstens
Lizette Deacon se Kia Piancto van Ocean Basket, waarvan sy die eienaar in Polokwane was, staan steeds in die motorhuis by die meenthuis. Foto: Marietie Louw-Carstens

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.