Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geen parool vir Leigh Matthews se moordenaar, vra familie

Familie van die vermoorde Leigh Matthews sê hulle voel asof hulle van voor af slagoffers van haar moordenaar, Donovan Moodley, geword het.

Hulle het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Sandton die nuus gedeel dat Moodley dalk vroeër op parool vrygelaat kan word.

Rob Matthews, Leigh se pa, voel getraumatiseerd nadat hy die nuus ontvang het dat sy dogter se moordenaar dalk vir vervroegde parool in aanmerking kan kom. Foto: Isabel Venter

Hy is in 2005 skuldig bevind aan Matthews se moord en dien sedertdien lewenslange gevangenisstraf uit. Dit het einde verlede jaar aan die lig gekom dat hy aansoek vir vervroegde parool gedoen het.

Rob Matthews, Leigh se pa, is Dinsdag deur lede van Women and Men Against Child Abuse (WMACA) bygestaan.

Volgens Matthews het die nuus hulle tot in hul diepste wese geskok. Hulle was onder die indruk Moodley sou eers in 2030 vir parool in aanmerking gekom het.

Die sekondêre trauma wat dié nuus vir die familie gebring het, kan amper nie in woorde beskryf word nie.

“Dit voel vir ons asof geregtigheid nie geskied het nie. Ons was onder die indruk hy is vir altyd uit die samelewing verwyder,” het Matthews gesê.

Leigh Matthews is ontvoer en vermoor. Foto: Argief

Hy is ontnugter deur die hele proses en vir die familie voel dit asof hulle opnuut die slagoffers is.

Families kan deelneem aan ’n slagofferverslag-proses uit teenkanting van die moontlikheid van vervroegde parool, maar dit is ’n haas onbegonne taak om behoorlike inligting hieroor te kry, sê Matthews.

Die familie het daarom die WMACA om hulp genader.

Luke Lamprecht, WMACA-verteenwoordiger, het regshulp ingewin.

Hy meen die departement van korrektiewe dienste (DKD) se stelsel is gefokus op die oortreder en neem nie die slagoffers in ag nie.

Lamprecht het ook uitgevaar oor die paroolproses wat nie deursigtig is vir die gewone mens op straat nie.

Die WMACA wil in die toekoms druk op die regering uitoefen om dié proses te verander. Dit moet soos enige hofverskyning vir die publiek toeganklik wees.

Die Matthews-familie wag al maande op die paroolraad om te bewys waarom Moodley vir parool oorweeg moet word, en of hy werklik berou getoon het vir sy dade.

“Vir ons is daar geen teken van berou nie. Hy het verskeie pogings aangewend om sy vonnis om te keer en het nooit gesê wat presies gebeur het en of daar nog ander mense is wat gevang moet word nie,” sê Matthews.

Volgens Lamprecht het Moodley homself eerder as ’n slagoffer van die stelsel uitgebeeld as om verantwoordelikheid vir sy dade te neem.

Die WMACA sal die Matthews-gesin bystaan wanneer die paroolraad bymekaarkom om oor Moodley se vrylating te besluit.

Donovan Moodley in 2012 tydens ’n hofverskyning waar hy sy vonnis probeer omkeer het. Dié aansoek is later van die hand gewys. Foto: Felix Dlangamandla

Vertoë is reeds saamgestel en gereed om ingedien te word.

Logan Maistry, DKD-woordvoerder, het by navraag gesê ’n datum vir die paroolverhoor is nog nie vasgestel nie.

Hy het bevestig ’n besluit sal eers geneem word as die proses afgehandel is kragtens al die wetlike bepalings.

“Parool is nie ’n reg nie, en daar is verskeie wetlike bepalings wat in ag geneem moet word. Die departement is ook in kontak met die slagoffers hieroor,” sê Maistry.

Luke Lamprecht, WMACA-lid, staan die Matthews-familie by. Foto: Isabel Venter

Agtergrond

Moodley het Matthews op 9 Julie 2004 by die Bond University in Sandton, waar sy studeer het, ontvoer. Hy was ook daar ingeskryf as student.

Moodley het later R50 000 as losprys van haar pa gekry.

Haar naakte lyk is 11 dae ná haar verdwyning in ’n veld naby Walkerville, suid van Johannesburg, gevind.

Moodley is in 2005 aan haar moord skuldig bevind nadat hy skuld beken het.

Hy het kort hierna verskeie pogings aangewend om teen sy vonnis te appelleer. Hy het onder meer beweer die vonnis is onvanpas omdat die moord nie beplan was nie.

Met Moodley se verhoor was daar ’n gevoel dat hy nie alleen opgetree het nie en iemand beskerm deur alleen skuldig te beken. Moodley het egter nooit hieroor uitgewei nie.

Meer oor:  Leigh Matthews  |  Moordenaar  |  Parool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.