Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geen spesiale eenheid vir Covid-19-sake nodig, sê Lamola

Ten spyte van die grootskaalse korrupsie wat met Covid-19-tenders landwyd gepleeg is, sien die regering geen dwingende rede om in dié stadium ’n spesiale Covid-19-teenkorrupsie-eenheid te stig nie.

Dít omdat die bestaande wetstoepassingsagentskappe volgens Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, die vermoë en bevoegdheid het om dit doeltreffend te kan ondersoek.

Lamola het so gesê in ’n parlementêre antwoord wat Maandagmiddag uitgereik is nadat adv. Glynnis Breytenbach, ’n DA-LP, by hom wou weet wat die huidige status van die spesiale Covid-19-teenkorrupsie-eenheid is.

Lamola het gesê geen toegewyde Covid-19-teenkorrupsie-eenheid is gestig nie.

Ronald Lamola Foto: GCIS

“In plaas daarvan het pres. Cyril Ramaphosa die ministers verbonde aan die interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en sekuriteit (JCPS) versoek om maatreëls in plek te stel oor hoe om korrupsie wat verband hou met Covid-19-aankope en die implementering van die (R500 miljard-)stimuluspakket te hanteer.

“Die NatJoints-bevelsentrum, wat bestaan uit direkteurs-generaal van die JCPS-groepering en van ander departemente wat regstreeks deur Covid-19 geraak is en wat ook die nasionale tesourie insluit, het dit bespreek om maatreëls te prioritiseer wat op Covid-19-teenkorrupsiesake gemik is. Dit word deur die teenkorrupsietaakspan gekoördineer.”

Volgens Lamola is die spesiale ondersoekeenheid (SOE), die Finansiële Intelligensiesentrum en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) lede van die teenkorrupsietaakspan.

“Bykomend het die SOE ook versoek dat die president ’n proklamasie uitvaardig wat die eenheid in staat sal stel om Covid-19-verwante korrupsie te ondersoek,” het Lamola gesê.

Intussen wou Werner Horn, nog ’n DA-LP, ook by Lamola in ’n ander parlementêre vraag weet wat die NVG se ondersoekdirektoraat (OD) gedoen het om sy ondersoeke en vervolgings van misdade wat met die Zondo-kommissie verband hou te bespoedig, sedert daar op 28 Julie wysigings aan die kommissie se regulasies gemaak is.

Volgens Lamola het die regulasiewysigings aansienlike stukrag aan die OD se werk gegee, wat sedert sy stigting gekortwiek is deur sy onvermoë om sy eie ondersoekers te huur.

“Die nuutste regulasies laat die Zondo-kommissie toe om inligting, rekords of dokumente regstreeks met die OD (en enige wetstoepassingsagentskap van die staat) te deel.”

Volgens hom het die NVG en die Zondo-kommissie op 7 Augustus vanjaar ’n protokol onderteken wat die deel van inligting tussen die twee entiteite reguleer op ’n wyse wat verbeterde samewerking in ondersoeke verseker, terwyl albei se belange nie bevoordeel word nie.

Die Zondo-kommissie het volgens Lamola reeds sy digitale forensiese vermoëns aan die OD vir twee van sy prioriteitsondersoeke beskikbaar gestel.

Die protokol laat die entiteite ook toe om getuienis te deel op ’n wyse wat die toelaatbaarheid daarvan in ’n gevolglike strafregtelike verhoor sal beskerm.

Waar die twee se werk oorvleuel, is die OD ook nou in staat om insig te kry in aspekte wat die kommissie reeds nagespeur het, al is die getuienis nog nie openbaar gemaak nie. Dit sal dubbele werk vermy en die OD se uitstaande ondersoeke aansienlik verkort.

Die Zondo-kommissie het volgens Lamola reeds sy digitale forensiese vermoëns aan die OD vir twee van sy prioriteitsondersoeke beskikbaar gestel.

Ondersoekers van die Zondo-kommissie sal ook deur die OD vir prioriteitsake gehuur word sodra die kommissie sy ondersoeke teen einde September afhandel, sê Lamola.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.