Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geliefde hansrenoster gestroop

Die ikoniese renoster, wat glo deur die sirkusbaas Brian Boswell met die hand grootgemaak is, is Dinsdagoggend doodgeskiet en onthoring.

Dit lyk of die 11-jarige Maxine gelê en slaap het toe sy met een kopskoot in die Natalse dieretuin waar sy aangehou is, doodgeskiet is.

MaxineFoto: Verskaf

Boswell het Donderdag gesê werkers by sy dieretuin buite Pietermaritzburg het hom Dinsdagoggend wakker geroep en gesê Maxine lê dood in haar boma en haar een horing is afgekap.

Volgens Boswell het hy onmiddellik opgespring en hom na die boma gehaas.

“Dit het op die oog af gelyk of Maxine gelê en slaap het. Toe ek nader stap, het ek gesien sy is dood en haar groot horing was weg.

“Die stropers het waarskynlik net betyds weggekom, want die bloed aan Maxine se kop was nog nat en warm,” het Boswell gesê.

Volgens hom het hy Maxine as piepklein renosterkalfie gekry, nadat haar ma om een of ander rede dood is.

“Maxine was so groot soos ’n bulhond toe sy hier aangekom het. Sy was hondmak en mense wat die dieretuin besoek het, het gewoonlik saam met haar vir foto’s geposeer.

Hy het gesê Maxine het saans vir haar eie veiligheid in die boma geslaap en bedags het sy vry op sy plaas rondgeloop.

’n Veiligheidswag het aanvanklik dag en nag by haar gewaak. Dit het die afgelope tyd te gevaarlik geword vir iemand om by haar te waak. “Die stropers skiet deesdae veiligheidswagte dood en dan gaan hulle vir die renoster. Ek kon geen mens se lewe meer op die spel plaas nie,” het hy gesê.

Bewaringsbewustes het hul afgryse en hartseer op Twitter en Facebook uitgespreek oor renosterstropery en die feit dat Maxine koelbloedig en op ’n kort afstand vir haar horing doodgeskiet is.

Boswell het gesê een troos is dat Maxine waarskynlik onmiddellik dood is en nie die pyn gevoel het toe haar groot horing afgekap is nie. Die stropers het klaarblyklik nie in Maxine se kleiner horing belanggestel nie, want hulle het dit net so gelos, het Boswell vertel.

Die polisie, ’n afvaardiging van die departement van landbou, bosbou en visserye en amptenare van Ezemvelo KZN Wildlife was na verneem word binne minute op die toneel.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN, het gesê 126 renosters is sedert die begin van die jaar in die provinsie gestroop. Die Hluhluwe-Imfolozi-natuurreservaat het die meeste renosters verloor, het hy gesê.

Meer oor:  Brian Boswell  |  Pietermaritzburg  |  Stropers  |  Renoster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.