Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geliefde sakeman (83) van Nigel in sy huis vermoor
Gemeenskapslede het Dinsdagaand kerse en blomme buite Hans van Rooyen se huis neergesit.

’n Bejaarde sakeman van Nigel aan die Oos-Rand, Hans van Rooyen (83), is Dinsdag in sy huis vermoor.

Hy is omstreeks 14:00 van sy werkswinkel weg om middagete by die huis te gaan eet.

Om 14:30 het ’n buurtwaglid verdagte mense in ’n voertuig by sy huis gesien, sê Martin Harris, voorsitter van die buurtwag Nigel Community on Patrol.

Die buurtwaglid het hulle agtervolg, waarna die voertuig weggejaag het. Die lid het tot in Alrapark, ’n woonbuurt net buite Nigel, agter hulle aangejaag.

“Daar het die verdagtes op ’n draai beheer oor die voertuig verloor,” sê Harris. Die voertuig het gerol en op sy dak beland. Die verdagtes het weggehardloop.

Die motor het op sy dak te lande gekom toe die verdagtes vir ’n buurtwaglid weggejaag het.

Die buurtwaglid het die registrasienommer van die voertuig aan die polisie deurgegee, waarna vasgestel is dat dit aan Van Rooyen behoort.

“Ons het die adres van die eienaar van die voertuig gekry en een van ons lede daarheen gestuur,” sê Harris.

Die veiligheidshek van die huis was oop en Van Rooyen is op die kombuisvloer gevind.

“Sy hande en voete was vasgebind. Hy is erg aangerand, maar die oorsaak van sy dood moet nog bepaal word,” sê Harris.

Hy sê Van Rooyen was geliefd in die gemeenskap en sal ’n groot leemte laat.

Meer as 100 gemeenskapslede het voor sy huis met kerse en blomme bymekaargekom.

Sy begrafnis sal Vrydag vanuit die NG kerk Suid in Nigel plaasvind.

Die polisie kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer as 100 gemeenskapslede van Nigel het Dinsdagaand voor Hans van Rooyen se huis bymekaargekom.

Meer oor:  Nigel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.